15-12-24

Antwoord op gebed

Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Lukas 1:37

Samuel, ‘n buitelander wat in Libië woon, was besig om sy Bybel te lees gedurende ‘n teepouse by die werk.  Toe een van sy kollegas Amal, hom vra wat hy doen, het Samuel vir haar gesê dat hy daarvan hou om die Bybel te lees en meer van Jesus te leer.

Amal vertel toe vir Samuel dat sy oor Jesus gedroom het.  In haar droom kon sy nie Jesus se gesig so duidelik sien nie, maar sy het geweet dis Hy.  Dit was donker, maar ‘n lig het deur die wolke gebreek en skielik het die grond onder haar in water verander.  Toe sy opkyk, sien sy hoe Hy van die hemel afkom en sy was baie bang. Sy het vir Samuel gesê dat sy baiekeer hierdie soort drome het.

‘n Dag of wat later het Samuel sy getuienis met Amal gedeel: God het hom verander van sy vorige slegte paaie en hom ‘n nuwe lewe gegee.  Jesus het sy hart verander.  Amal het aandagtig geluister en toe uitgeroep: “Dank God wat hierdie dinge vir jou kon doen!”

Samuel kan nie voortgaan om ‘n pad met Amal te stap nie vanweë kulturele beperkings op interaksie tussen mans en vrouens. Samuel hoop om haar aan ‘n ander dame bekend te stel wat ook ‘n volgeling van Jesus is.

In ‘n ander dorp is ‘n paar volgelinge van Jesus met olie gesalf deur ander gelowiges en is daar vir hulle gebid vir die krag van die Heilige Gees en vrymoedigheid om die Goeie Nuus te deel.  In die daaropvolgende maand het een van hulle geleentheid gehad om vir ‘n siek familielid te bid wat toe gesond geword het.  ‘n Ander Libiese gelowige het getuig hoe die Heilige Gees die woede wat konstant in hom was vervang het met vrede, ná daardie gebedstyd.  Sedertdien bid en bestudeer hy die Woord met groot vreugde.

Ons het nou die einde bereik van die jaar van gebed vir Libië, maar dit beteken nie dat ons ophou bid vir Libië nie.  Julle sal steeds gebedsbulletins ontvang, maar dit sal maandeliks eerder as weekliks uitgestuur word. Laat ons aanhou om die nasie voor God se troon op te lig soos die Gees ons herinner.  Ons is baie dankbaar vir getuienisse soos die bostaande van onlangse gebedsverhoring.  Hou aan om te vra dat Libiërs sal opstaan en hul plek voor die troon van God sal inneem.

Besoek ons webtuiste www.pray4libya.net en Facebook blad: Bid vir Libië, vir meer inligting.

Lees, oordink en bid Jesaja 60:1-3


15-12-17

Skande en pyn

“hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons..”

Mattheus 1:23

Gadeedja het nie haar ontvoerders sien aankom toe sy een wintersdag teruggestap het huistoe van haar kollege nie.  Alles het so vinnig gebeur. Selfs vandag kan sy nie alles goed onthou nie.  Sy voel steeds getraumatiseerd deur die nagmerrie waardeur sy gegaan het.  Hulle het haar vir 3 dae aangehou en misbruik voordat hulle haar op haar pa se drempel gelos het.  Sy was stukkend en haar klere geskeur.  Haar familie was verslae.  Hulle het geweet die bure gaan praat oor wat gebeur het – ‘n absolute skande vir die familie se naam en reputasie.  Hulle het besluit dat Gadeedja nie meer by hulle kon bly nie.  Wat gebeur het was nie haar skuld nie, maar dit het oneer op die familie gebring en haar teenwoordigheid sou dit vererger.  Sy is weggestuur – sonder familie en sonder eer.

Salah is ook ontvoer – een dag oppad werk toe.  Hy is aangehou vir ‘n losprys en sy ontvoerders het gedreig om hom dood te maak as sy familie nie betaal nie.

Mohamed was weer vir twee maande aangehou.  Sy ontvoerders het hom geblinddoek, in ‘n skeepshouer gehou en hom gereeld geslaan.

Die bostaande gebeurtenisse is algemeen in vandag se Libië.  Enigeen met geld lewe in vrees dat hulle dalk ‘n teiken kan wees van kriminele wat hulle sal ontvoer en hulle of hul familielede sal afdreig.

Soos ons in die Adventstyd nadink oor Jesus se koms, laat ons bid vir Libiërs om redding, troos en genesing in Jesus te vind.  Bid vir volgelinge van Jesus om na Libiërs gelei te word wat honger is vir troos en redding.

Lees, oordink en bid Jesaja 11:1-10


15-12-10

Die Vader se hart

Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

Johannes 20:21

‘n Libiese gelowige wat in ‘n ander land woon, deel ‘n droom wat hy jare terug gehad het:

“In my droom het ek gesien hoe ek teruggaan na my pa se plaas in Libië.  Op sy land was daar olyfbome.  In my droom het ek gesien dat die bome vol olywe was, groter as die gewone grootte olywe.  Hulle kleur was al baie donker en olie het begin om uit die olywe te drup.  Die oes was reg.  Ek was egter baie hartseer omdat my pa net gesit het.  Ek het na hom gekyk en gevra: ‘Wat gaan aan?  Hoekom maak pa nie olywe bymekaar nie?  Die oes is reg?’

Hy het na my gekyk en gesê: ‘Ek het niemand om my te help nie.’  Ek was baie hartseer toe ek weggestap het en sien hoe die olywe op die grond lê met die olie wat uitdrup.  Die olywe was reg om geoes te word.  Op die ander plase was almal besig om te oes, behalwe op my pa se plaas.

Ek het hartseer wakker geword.  Ek het toe een van die leiers van die kerk wat ek bygewoon het van my droom vertel.  Sy verduideliking was soos volg: Die olywe is die harte van die Libiërs.  Die pa is ons hemelse Vader.  Niemand help met die oes nie- die land het nie werkers wat die Goeie Nuus deel nie.  Die olywe drup van olie omdat die Libiërs se harte reg is vir die werk van God.

“As Jesus Christus God is en vir my gesterf het, dan is geen offer wat ek vir Hom kan bring, te groot vir my nie.” – C.T. Studd

Lees, oordink en bid Lukas 2: 8-18.


15-12-03

Chaos

Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie.

Jesaja 9:6 (NLV)

Thoraya het altyd alles wat gebeur aanvaar as God se wil.  Sy het nooit enige iets bevraagteken nie.  Al het haar familie en stam nie van die diktator, Ghaddafi gehou nie, was die lewe nie te sleg vir hulle nie.  Sommige van Thoraya se familielede het gedurende die 2011 rewolusie gesterf, maar sy en haar familie was trots dat hulle as martelare vir ‘n vry en nuwe Libië gesterf het.  T.s.v. die uitdagings en gesukkel in Libië om ‘n nuwe regering tot stand te bring, het sy en haar vriendinne steeds die lewe geniet en was tevrede met hul godsdiens.  Die lewe was gemaklik en hulle het geen begeerte gehad om enigiets te bevraagteken nie.

In die afgelope jaar en ‘n half het dit egter verander.  Die lewe is baie meer onstabiel as onder Ghaddafi.  Sedert Libië se eerste verkiesing in 2012 kon die daaropvolgende regerings nie daarin slaag om verskillende militias en gewapende groepe te beheer wat hul mag sedert die 2011 rewolusie uitgebrei het nie.

Hierdie groepe het gefragmenteer en vermenigvuldig en die geveg vir beheer van die land gaan voort.  ‘n Onlangse VN verslag bereken dat ongeveer 1700 gewapende groepe en militias aktief is in Libië.  Sommige van die groepe gebruik die onstabiliteit wat tans heers om ou stam vetes op te haal en wraak te neem.

Libiërs voel nie meer veilig nie.  Die wet bied geen beskerm vir hulle nie  en die polisie is baiekeer te bang om tussenbeide te tree of in baie gevalle, is daar nie ‘n polisiemag nie.
Die VN beraam dat 2,44 miljoen Libiërs – amper die helfte van die land se bevolking – geaffekteer word deur gevegte wat lei tot ‘n gebrek aan kos, water, elektrisiteit en mediese voorrade. Lewenskwaliteit en toegang tot basiese dienste wissel van plek tot plek in die land.  Die situasie in Tripoli sien slegter daarna uit as vyf jaar gelede, maar dis steeds meer stabiel as Benghazi.  Die meerderheid van Libiërs wat deur die VN ondervra is in Augustus, sê dat hul kinders nie skool kon bywoon nie terwyl Benghazi se skoolbywoning met 50% gedaal het sedert die toename in gevegte in die stad sedert 2014.

Baie Libiërs soos Thoraya en haar vriendinne begin desperaat voel.  Hul gesprekke gaan al hoe meer oor waarom dinge so verkeerd loop in hul land. Thoraya het almal geskok toe se een dag gesê het dat dit hul geloof is wat die oorsaak is van al die gemors.   Libiërs bevraagteken toenemend dit wat hulle vantevore net aanvaar het.

Al het daar verandering in die regering en leierskap gekom, het die magte van die duisternis – wat toegang tot die land verkry het deur sondes wat oor generasies gepleeg is – nie verander nie.

Kom ons roep uit na God namens die Libiërs, dat Sy Lig sal deurbreek en die vloek oor die land sal breek sodat die Libiërs Jesus sal soek en vind.

Lees, oordink en bid Mattheus 2:1-11.


15-11-26

Die Woord van God

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Johannes 1:14

Ek was 18 jaar oud toe ek besluit het om ’n volgeling van Jesus te word. Iets in my hart het my gedring om myself aan Jesus te gee. Ek was ’n dag lank Sy volgeling en het dit toe gelos omdat ek bang was vir my familie  en stories gehoor het van mense wat doodgemaak is omdat hulle hulle tot die Christelike geloof bekeer het. My Moslem-gemeenskap was nie fanaties nie, hulle was onkundig oor ander godsdienste en wou nie hê enigiemand moet vrae vra nie. Hulle het net van almal verwag om hul Moslem-geloof te aanvaar, wat so hard en onveranderlik soos staal is.

Op ’n dag het ek by ’n nederige Christen uitgekom wat herstelwerk vir my broer gedoen het. Toe ek met hom gepraat het, was hy vriendelik en sy gesig het geblink. Ek het besef hy was ’n Christen oor sy naam en was selfs meer aangetrokke tot hom. Ek het hom dikwels gesien en hom gevra om my van Christus te vertel en van die Bybel. Ek het nooit geglo die Bybel is verander nie en ek was verstom dat my mede-Moslems beweer het dit is verander, selfs al sê die Koran duidelik vir ons dat ons die Bybel moet glo en selfs bestudeer. Dit vertel selfs vir Moslems dat hulle, as hulle enige vrae het, die “mense van die Boek”, dit is Christene, moet vra.

Toe ek hom oor die Bybel uitgevra het, het hy voorgestel dat hy my een gee dat ek self kon lees. Hy het vir my gesê dit is sy eie Bybel en dat hy nie nog een het nie omdat daar geen Bybels in die boekwinkels in Libië was nie. Ek het die Bybel by hom geneem en was baie bly, maar terselfdertyd bang dat my familie dit sou kry. Dadelik toe ek die Bybel in my kamer, wat ek gesluit het, begin lees het, het ek gevoel hoe vreugde my hart vul. Ek is daardeur aangetrek, maar dit het nie te diep ingesink nie.

’n Week later het ek die Bybel vir hom teruggegee. Ek het hom gevra of hy my meer oor sy geloof sal leer, maar hy het na sy land teruggekeer voordat dit kon gebeur. Ek het vir hom gevra om vir my ’n kopie van die Bybel te bring wanneer hy terugkom. En so het ek die Bybel en die leringe van Christus begin bestudeer. Ek het van die krag van Christus geleer en die gemeenskap geniet van my lewe met die Here deel. Ek het ware gebede in Christus begin bid en opgehou met die vyf daaglikse gebede, wat soos ’n sinlose plig gevoel het.

Een Oujaarsaand het ek ’n eenvoudige gebed gebid: “In die naam van die engele van die Here en in die naam van die Messias, roep ek U aan, Here van die hemel. Bevry my liggaam van sonde tot die einde van die ewigheid. Ek vra dit in Jesus Christus, Amen.” Ek het verklaar dat Christus my Here en Redder en Verlosser is, die Een wat uit die dood opgestaan het vir my en vir alle mense om ons van ons verkeerde dade te red. Ek het nie meer vrees of onsekerheid geken nie omdat die Here by my was – my Lig en my Heil.

Ek het daardie nag met ’n heeltemal ontspanne gees geslaap. Ek wou dit uitskree om die wêreld te laat weet wat gebeur het: Ek het tot inkeer gekom en Christus as my Here en Verlosser aanvaar.

Lees, oordink en bid Johannes 6:36-40


15-11-19

Libiese diaspora

“As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Hebreërs 13:1,2

’n Beraamde 2 miljoen Libiërs woon buite Libië in buurlande, meestal in Tunisië en Egipte, maar ook in sommige Westerse lande. Min van hulle registreer as vlugtelinge, dus is dit moeilik om te weet presies hoeveel daar is. Party het die land verlaat vanweë hul bande met die Gaddafi-regering; ander is weg om verdere opleiding te ontvang en het nie teruggekeer nie weens die onsekerheid; nog ander is weg oor die geweld.

Hul fisiese behoeftes is dalk nie so groot soos die baie vlugtelinge uit Afrika en die Midde-Ooste wat deur Libië na Europa toe gaan nie. Tog verlang Libiërs wat buite hul land woon, na vriendskap en kontak met plaaslike inwoners in hul gasheerland. Waar dit moeilik is om Libiërs met die Evangelie te bereik terwyl hulle in Libië bly, bied die Libiese diaspora ’n geleentheid vir hulle om die Blye Boodskap te hoor.

Andrew, wat in Libië gewerk het, deel die volgende ervaring: “Ek het onlangs na ’n Libiese kafee in ’n Europese stad gegaan waar baie Libiërs nou woon. Ek is betrek by ’n lewendige gesprek met ’n konserwatiewe Libiese man wie se afskeidswoorde my verstom het. Hy het gesê: ‘Ek woon al 12 jaar hier en dit is die eerste keer wat ek gesit en ’n behoorlike gesprek met ’n plaaslike inwoner gehad het.’ Daarteenoor het ek gedink aan my verblyf in Libië en die warm verwelkoming en gasvryheid wat ek van baie plaaslike vreemdelinge ontvang het.”

’n Libiese gelowige verduidelik: “Libiërs is baie sosiaal. Hulle eet graag saam. Sosiale lewe is belangrik, sowel as respek vir mekaar. As hulle dit sien, voel hulle welkom. Die Bybel praat van ‘liefde vir mekaar’. Wanneer Christene liefde en omgee betoon, word Libiërs na Jesus toe aangetrek. Maar Libiërs word afgestoot wanneer mense die Koran aanval of Christene met hulle praat met ’n houding van: “Julle is verkeerd en ons is reg.”

Laat ons bid dat God se kerk ware gasvryheid sal bied aan daardie Libiërs wat nou vreemdelinge in ’n ander land is omdat ons, wat vreemdelinge vir God was, die voorreg het om aanvaar te wees as vriende van God.

Lees, oordink en bid Efesiërs 2 


15-11-12

Hou aan vra …

“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

Matteus 7:7

Youssef hou daarvan om oor godsdiens te praat met sy uitlandse vriend, John, ’n volgeling van Jesus. Sy vriend se geloof in Jesus fassineer hom, maar soms het dit gelyk asof Youssef eerder net wil gesels as wat hy regtig na die waarheid gesoek het.

Een van Youssef se neefs, Ahmed, het ’n Bybel gekoop ná hy ’n fliek gesien het terwyl hy in die buiteland was. Toe Ahmed na Libië teruggekeer het, het hy John uitgevra oor Jesus se lewe en waarom Hy vir sonde gesterf het. Hy was nie seker of hy kon vertrou wat in die Bybel staan nie, want, soos die meeste Moslems, glo Ahmed die Bybel is verander.

Vir Youssef en sy neef, Ahmed, gaan godsdiens daaroor om punte by God te verdien. Hulle glo jy verdien meer punte as jy in die moskee bid, as wanneer jy by die huis bid. Deur mildelik aan die armes en behoeftiges te gee, verdien jy ook meer punte. Op die oordeelsdag sal God al jou goeie en slegte dade op ’n skaal sit; as die goeie dade swaarder weeg as die slegte dade, is dit moontlik dat God jou in die Paradys sal toelaat. Youssef en Ahmed sien die manier waarop John praat van verlossing, gebed en vas is anders, maar hulle dink John is dalk mislei.

Tareq is nog ’n Libiese Moslem wat bevriend geraak het met ’n uitlander, Paul, wat in sy land werk. Uit nuuskierigheid het Tareq sy nuwe vriend Paul oor sy godsdiens begin uitvra. Ná die gesprek het Tareq die Bybel van die internet afgelaai en die boek Openbaring gelees. Hy het al voorheen stories oor Jesus gehoor en ook dat Jesus wit hare gehad het. Tareq was baie verbaas toe hy in Openbaring lees dat Jesus inderdaad wit hare het. Sommige van Tareq se kennisse het ook oor Jesus en die Bybel begin lees en vir Paul vrae gevra.

Libiërs streef daarna om gaste tuis te laat voel en hulle kan vrae uit hoflikheid vra of net om ’n gesprek aan die gang te kry, maar dit beteken nie altyd dat dit hul hartsbegeerte is om meer te wete te kom nie. En tog bring God Libiërs op baie verskillende maniere met Sy mense in aanraking en wat dalk as ’n hoflike gesprek begin het, kan tot iets diepers lei en hulle aanmoedig om die Waarheid te soek.

Die onstabiliteit en chaos het Libiërs uit hul gemaksone geruk en laat soek hulle na meer – veral na vrede en waarheid. Die Bybel sê ons moenie moeg word daarvan om goed te doen nie, maar dat ons op die bestemde tyd die oes sal insamel (Galasiërs 6:9). Laat ons nie moeg word van vra en klop aan die hemelse deur dat Libiërs se oë oopgemaak moet word sodat hulle bewus kan raak dat hulle ’n Verlosser nodig het. Laat ons bid dat hulle na Jesus toe sal kom en hulle behoeftes aan Hom bekend sal maak sodat hy hulle kan red en heelmaak.

Lees, oordink en bid Markus 10:46-52


15-11-05

Grense

“Die Here sê: ‘Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.’ ”

Sagaria 2:5


www.talkradionews.com

Libië het ’n kuslyn van 1,770 kilometer, sowel as 5,000 kilometer van landsgrense wat maklik oorgesteek kan word, meestal in woestynstreke waar min mense woon.

Gaddafi, wat in die opstande van 2011 in Libië omgekom het, het na bewering elke jaar vyf biljoen euros ($5.37 biljoen) van Europa gekry vir die koste van waarneming van die grense en die stryd teen die smokkel van mense. Gaddafi het sy immigrasiebeleid gebruik om druk op Europa toe te pas en die hekke vir migrante oop en toe gemaak afhangend van die stand van Libië se verhouding met EU-lede (veral Italië, Libië se voormalige koloniale regering). Weens die gebrek aan ’n sentrale regering sedert Gaddafi se val, word Libië se swakbewaakte grense uitgebuit deur ISIS en ander extremistiese groepe, burgermagte en smokkelaars. Met die miljoene dollar wat gemaak word uit smokkelary heen en weer oor die grense, gebruik hierdie organisasies handel in mense, wapens en dwelms om hul bedrywighede te finansier. Stamme soos die Tuareg en Tebu maak staat op die inkomste wat hulle verkry deur met die smokkelhandel te help, as hul hoofbron van inkomste.

Die gebrek aan ’n verenigde, stabiele regering en ’n sterk polisiemag laat die smokkelaars toe om lustig voort te gaan met hul bedrywighede. Nie net is dit sleg vir Libië nie, maar vlugtelinge uit Afrika en die Midde-Ooste word ook uitgebuit en in gevaar gestel.

Sub-Sahara Afrikane word oor die suidelike grense (via Soedan, Niger en Tsjad) na Libië ingesmokkel. Siriërs, wat ’n aansienlike gedeelte van die gesmokkelde mense uitmaak, kom gewoonlik via Algerië.

Tunisië het vanjaar twee terroriste-aanvalle beleef en die blaam word gelê op die Libiese grens wat swak beheer word. In albei aanvalle het die Tunisiërs wat betrokke was, oor die grens geglip om opleiding te ontvang by ISIS in Libië.

Libië se swak beheerde grense het die duister magte toegelaat om verwoesting te saai in die lewens van Libiërs en ander. Wanneer jy hierdie week tyd in gebed deurbring, bid dat Jesus, die Lig van die wêreld, hierdie kragtige duister magte sal uitdryf.

Lees, oordink en bid Psalm 18:8-16

15-10-29

Hoe lyk die kerk?

“Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.”

Johannes 4:23

Paul het bevriend geraak met ’n paar Libiërs in die stad waar hy gebly het. Hy het hulle dikwels vrae oor hul godsdiens gevra: “Waarom is in die Koran geskryf van Jesus wat sterf? Waarom sê julle dat die Bybel verander is? Die Koran sê dit nie?”

Hulle het nooit voorheen aan dié vrae gedink nie en dit het hulle ongemaklik laat voel.
Op ’n dag het Mogtaar vir Paul gevra of hy saam met hom kerk toe kon gaan. Paul het daardie dag reeds ’n afspraak gehad en kon nie gaan nie. Hy het aan Mogtaar verduidelik dat die kerk nie net ’n fisiese gebou is nie, maar dat kerk eerder gaan oor gemeenskap met ander gelowiges. ’n Kerk kan enige plek wees.

Maar Mogtaar was nie tevrede gestel nie en het self na ’n kerk toe gegaan. Die priester het hom verwelkom, sy naam gevra en wou weet waar hy vandaan kom. Mogtaar het oor sy nasionaliteit gejok omdat hy bang was iemand sou uitvind. Hy is onmiddellik ná die diens weg.

’n Honger het egter in hom posgevat. Hy het met sy  vrae na Paul gegaan: “Wie aanbid hulle in die kerk? God of Jesus?”

Intussen het Mogtaar probeer grappe te maak voor sy ander vriende. Maar een van sy vriende se nuuskierigheid het die oorhand gekry en hy wou ook kerk toe gaan.

Die huidige klimaat van geweld in die naam van godsdiens laat baie Moslem-Libiërs aan hul geloof begin twyfel. ‘Christenskap’ soos dit op televisie en in tradisionele kerkgeboue uitgebeeld word, is egter vreemd vir hulle en hul kultuur. Hulle het nie slegs ’n openbaring van Jesus nodig nie, maar ook ’n openbaring van wat kerk regtig is.

Libiërs wat Jesus volg, begeer ook om te weet waaroor kerk gaan. Wanneer hulle TV kyk, sien hulle Christene wat in groot geboue saamkom en aanbid en dit is nie vir hulle moontlik nie. Bid dat Jesus hulle in Hom met mekaar sal verbind op ’n manier wat by hul agtergrond en konteks pas.

Lees, oordink en bid Handelinge 2:21, 37-47


15-10-22

Kufrah

“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Jesaja 43:19

Suidoos-Libië bestaan hoofsaaklik uit Sahara-woestyn. In die middel van hierdie reuse woestyn is die klein Kufrah-kom. In die kom is ’n aantal oases. Dit sou van minder belang gewees het as dit nie so strategies reg in die middel van die woestyn geleë was nie.

Weens sy ligging is Kufrah lank reeds ’n sentrum vir handel, wettig en onwettig. Dit is die kern van smokkelary, dwelms, mensehandel, migrante en die onwettige oorsteek van die grense. Die gebied word regeer deur stam-kartelle wat elke regering verontagsaam en dikwels hul handel voortsit en outonoom bly deur ’n gedeelte van hul winste met die regering te deel.

Die gebied is ook ’n heilige plek vir die Senussi-orde, ’n soort Sufi-Islam. Dit het plaasgevind toe die Senussi-leier van 1894 om veiligheidsredes besluit het om in Kufrah te hervestig. Later, in 1951, het die Senussi-leier, Koning Idris, regeerder van Libië geword. Hy het daardie posisie behou tot hy omvergewerp is in Kolonel Gadaffi se staatsgreep van 1969.

Kufrah bly nou verbind aan landspolitiek, godsdiens en migrantebewegings. Dit lyk asof Kufrah tans oorheers word deur die negatiewe en skadelike kant van die spesiale betekenis wat hy het. Bid dat Kufrah eerder ’n plek van seën (‘n geestelike oase) sal word en sy potensiaal sal verwesenlik om ’n sentrum van positiewe invloed te wees. Bid dat die mense sal besef wie hulle in Christus is en dat sy planne en doelwitte groter en beter is as enigiets wat hulle tans beleef.

Lees, oordink en bid Jesaja 35:4-8


15-10-16

Media

Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

Jeremia 29:13

’n Bekende Libiese professor wat in die Weste werk, het ’n artikel oor huidige gebeure in Libië geskryf op ’n gewilde Libiese nuuswebwerf. Sy het geskryf sy het tot dusver vyf jong Libiese vroue oortuig om weer na Islam terug te keer nadat hulle Christene geword het deur middel van Evangelieboodskappe wat op sosiale media met hulle gedeel is. Die laaste een van dié vroue het egter aan haar gesê: “Dit is die Here wat ek wil volg en aanbid. Hy is ’n God van liefde, vrede en eerlikheid – anders as wat ons in Islam sien, veral in hierdie dae van stryd, konflik, teenstrydighede en wreedheid … Hy is die enigste een wat paradys kan waarborg vir diegene wat glo … Kyk wat het die Here vandag vir my gesê…” Die jong vrou het vir die professor dié boodskap op haar foon gewys: “ ’n Brief van jou hemelse Vader …”

Dit het as wekroep vir die professor gedien. Terwyl die sjeigs en geestelike leiers in Libië onder mekaar stry en nie op vrae kan antwoord of jong mense toelaat om hul godsdiens te bevraagteken nie, het hierdie jong vroue ’n ander pad na God gesoek en gekry. Die professor het verskeie tieners ontmoet wat hierdie weg aangeneem het – die Weg van Jesus – en wat sê hulle het vreugde en vrede in Jesus gevind.

Sy het Skrifgedeeltes en geestelike gesprekke aangehaal wat op hierdie webtuiste is en dit het daartoe gelei dat baie Libiërs die betrokke webwerf besoek om self te sien waarvan sy praat. Sy beskryf dit as “ ’n Libiese stem vir Libiërs”. Ons loof God omdat Hy hierdie professor gebruik om mense die waarheid te help bereik.

God gebruik digitale media om nie slegs die Evangelie-boodskap aan Libiërs te bring nie, maar ook om Libiese volgelinge van Jesus aan te moedig. Deur die beskikbaarheid van die internet kan Libiërs deur webwerwe en sosiale media bereik word. Meer en meer mense het toegang tot die internet deur hul selfone en besoek Christelike webwerwe en Facebook-bladsye op soek na antwoorde op hul vrae en probleme.

Nie almal is gelukkig hieroor nie. Mense in magsposisies probeer Christelike webwerwe blokkeer sodat daar nie van binne Libië toegang daartoe is nie.

Soos ons die Skrif oordink, laat ons bid dat Libiërs die Waarheid oor Jesus sal soek en vind wanneer hulle sosiale media gebruik. Bid dat die Heilige Gees gelowiges en soekers deur die internet sal verbind en dat geen mag of owerheid dit kan verhoed nie.

Lees, oordink en bid Jesaja 55:1-11


15-10-08

Tuareg

“God gaan op na sy tempel toe onder gejubel, die Here gaan op terwyl die ramshorings blaas. Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning, prys Hom met psalms!”

Psalm 47:6,7


www.ibtimes.co.uk

Al is die huidige klimaat een van konflik en ekonomiese depressie, het die Tuareg-stamme in die dorp Ghat saamgekom vir die jaarlike Musiek- en Erfenisfees wat aan die begin van Junie gehou is. Mag hul sang en danse oorgaan in lofprysing en aanbidding tot die Koning!

Tuaregs maak altesaam omtrent 20,000 van die bevolking in Libië uit en woon in die suidwestelike hoek van die land naby die dorpe Obari en Ghat. Oorspronklik was die Tuaregs nomade wat in die Sahara-woestyn gewoon het en vandag word hulle ook aangetref in die buurlande Niger, Mali en Algerië. Die Tuaregs in Libië praat die Tamahaq-dialek van Berbers.

Onder die vorige regime is die Tuaregs uitgestoot, burgerskap ontsê en het nie politieke verteenwoordiging gehad nie. Gaddafi het Tuaregs uit ander lande gehuur om vir hom in die Revolusie te veg. Die Tebus, ’n ander stamgroep, het aan die ander kant saam met die revolusionêres geveg. Sedert 2011 is daar voortdurende botsings tussen die Tebus en ander stamme. ’n Groot bron van dié konflik hou verband met geskille oor beheer van suidelike handelsroetes, sowel as belangrike olievelde. Onlangs het stamleiers van beide die plaaslike Tuareg- en Tebu-stamme ooreengekom tot ’n skietstilstand, wat hopelik op ’n vredesooreenkoms sal uitloop.

Met die toenemende teenwoordigheid van Islamitiese ekstremistiese groepe in die suide van Libië, bid dat die Tuaregs nie radikaal sal word nie, maar dat aandag gegee sal word aan hulle behoeftes en daaraan voldoen sal word – ekonomiese ontwikkeling, werkgeleenthede, staatsteun vir hul taal en kultuur en burgerskap met groter toegang en gepaardgaande regte.

Lees, bid, oordink Romeine 15:9-13


15-10-01

Dromen en Visioenen

“En het zal daarna geschieden, dat Ik Mijn Geest zal uitstorten op alle mensen. Uw zonen en uw dochters zullen profeteren, uw oude mannen zullen dromen dromen, uw jongelingen zullen gezichten zien”

Joël 2:28

Toen Waleed 10 jaar oud was, had hij een droom: een deur opende voor hem in de hemel en achter die deur droegen mensen witte kleren en er was een groot licht om hen heen.
Toen hij een tiener was opende die deur voor hem weer op dezelfde manier. Door vele jaren van dorsten naar de Waarheid, waarbij hij al zijn inspanningen gaf aan de 5 rituele gebeden, uitroepend tot God, ontmoette hij iemand die Jezus volgde en die hem introduceerde tot de Bijbel.De nacht waarop Waleed Jezus aanvaarde als zijn Redder en Verlosser, verscheen Jezus weer aan hem in een droom:  Jezus was gekruisigd en hing doorboord aan het Kruis.  Hij keek naar Waleed terwijl hij naderde  tot het Kruis.  Wanneer Waleed wakker werd in de ochtend zei hij tegen zijn moeder dat hij had gedroomd over de gekruisigde Christus.Ze vertelde hem: “Dat betekent dat je een machtige overwinning hebben gehad over iets” en ze verweet hem niets. De volgende nacht verscheen Christus aan hem in een prachtig beeld en opende de Bijbel voor hem en las uit het Boek van leven en vertelde Waleed: “Ik ben de Weg, de Waarheid en het Leven.”

Het visioen ging door en na twee dagen verscheen Christus aan hem met een hard geluid. De Bijbel was open en zijn woorden werden door een lichte verkondigd.  Hij had nog nooit in zijn leven zo’n licht gezien.  Toen hij wakker werd herinnerde hij zich een droom die hij had toen hij 10 jaar oud was.

Hij wist het geheim in zijn hart – zijn liefde voor Christus en het geloof van liefde en gemeenschap met de Heer.  Hij wist dat hij het eeuwige leven had gekregen vanwege zijn liefde voor Christus.  Nu leeft hij voor Christus zonder dat zijn familie het weet omdat hij weet wat er zou kunnen gebeuren – het zou hem zijn leven kunnen kosten. Toch probeert hij zijn geloof te delen met mensen die hij ontmoet.

Waleed zegt: “Ik zeg u, dat ik de zin van het leven niet wist totdat ik Christus ontmoette en leerde van mijn liefde voor Hem in mijn hart”God gebruikt dromen en visioenen om Libiërs tot Hem te trekken. Een Libische volgeling van Jezus legt uit dat Libiërs enorm belang hechten aan dromen. Als iemand een visioen of een droom krijgt nemen ze het serieus en zijn ze klaar om te luisteren en om Jezus te ontvangen. Als ze een bijbel krijgen “zullen ze het niet alleen lezen, maar het ‘eten’.” Laten we blijven vragen dat het aantal dromen en visioenen van Jezus meer zal worden.

Lees, mediteer en bid 1  Johannes 1:1-7

15-09-24

Tobruk

Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry.

Romeine 10:3

Tobruk, ’n hawestad aan Libië se oostelike Mediterreense kus na aan die Egiptiese grens, het ’n bevolking van omtrent 120,000.

Die stad het ’n sterk, natuurlik beskutte diep hawe. Dit is waarskynlik die beste natuurlike hawe in Noord-Afrika, maar het geen opsigtelike landingsplekke nie, aangesien dit omring is deur kranse en woestyn. Die omringende woestyngebied is yl bevolk deur nomadiese herders wat van oase na oase trek. Tobruk het beroemd geword tydens die Tweede Wêreldoorlog as ’n strategiese vesting vir die Geallieerdes wat onder beleg was toe hulle die Duitse inval in Egipte probeer vertraag het. Ná Libië se onafhanklikheid in 1951, het Koning Idris van Libië sy paleis by Bab Zaytun in die stad gehad. Tobruk was tradisioneel ’n vesting van die koninklike Senussi-dinastie en een van die eerste stede wat teen Gaddafi in opstand gekom het. Reg aan die begin van die revolusie van 2011 het die stad onder die beheer gekom van die Nasionale Oorgangsraad wat Gaddafi teengestaan het.

In September 2014 het die Huis van Verteenwoordigers, die internasionaal erkende regering van Libië, van Tripoli na Tobruk verskuif nadat ’n burgermag, Libya Dawn, die hoofstad in Augustus 2014 ingeneem en ’n opponerende raad saamgestel het – die Algemene Nasionale Kongres.

Die stad het minder geweld ervaar as ander Libiese stede, maar is nie daarvan vrygestel nie. In Mei 2015 het sluipskutters Abdullah al-Thinni,  Eerste Minister van die Huis van Verteenwoordigers, op pad na die lughawe probeer vermoor, maar hy het ontkom. Die aanval is verbind aan stamleiers in Tobruk.
.
Tobruk speel ’n sleutelrol in Libië se huidige sake. Verskeie vredesooreenkomste tussen die regerings in Tobruk en Tripoli is verwerp.

Die volgende is onlangs op ’n Facebook-blad van Tobruk geplaas:

“Moenie te veel dink nie, maar vergewe baie.
God maak die deur oop deur vergifnis en nie deur te dink nie.
Vra vergifnis van die Almagtige God en wees berouvol.”

Miskien is dit die sleutel vir die mense van Tobruk en Libië om met mekaar versoen te raak. Wanneer ons vir hierdie stad bid, bid vir hul versoening met God deur Jesus Christus.

Lees, oordink en bid 2 Korintiërs 5:18-21.

 15-09-18

Eid al-Adha (24 September)

“Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’ ”

Johannes 1:29

Omar, ’n ongetroude man in sy vroeë dertigs, was gewoonlik sosiaal en spontaan. Deesdae is hy baie terneergedruk oor die situasie in Libië. Hy het saam met die rebelle geveg in die revolusie van 2011, maar is sedertdien nie by enige burgermagte betrokke nie. Dit kan deesdae selfs gevaarlik wees om net in die dorp te loop. Op ’n dag terwyl hy inkopies vir sy gesin gedoen het, het hy in kruisvuur beland en moes vlug vir sy lewe. “Al wat ek wil hê, is vrede, vrede, vrede. . .” sê hy. Hy werk nie en bring die meeste van sy tyd tuis voor die TV deur of hou hom met die internet besig, in die hoop dat dit hom sal help om te vergeet. Hy is skaam vir sy land en verleë oor al die ongeregtigheid en doodmaak van onskuldige mense deur verskillende groepe, veral die Islamitiese Staat. Die IS-slagtings in Libië het die hele wêreld dié jaar geskok, maar hy en ander Libiërs soos hy, is selfs met meer afsku vervul oor die barbaarse teregstellings as wat die Westerse wêreld is.

Dié komende week is die Hajj (die pelgrimstog na Mekka), een van die pilare van Islam. Baie Moslems, soos Omar, wat nie op die Hajj sal gaan nie, vier steeds Eid al-Adha, die fees van die offerande, wanneer ’n skaap geoffer word soos wat Abraham duisende jare gelede gedoen het. Ná gebede vroeg die oggend in die moskee, waar die verhaal van Abraham gelees word (effens verskillend van die Bybel), keer die mans terug huis toe om hul skape dood te maak en te slag (soms word ’n kameel onder families gedeel) en berei die vroue die res van die dag verskillende geregte voor. Die volgende twee dae besoek hulle vriende en pronk die kinders in hul nuwe klere.

Baie mense, soos Omar, is moeg van al die vegtery en hoop dat die feestelikheid van Eid al-Adha ’n bietjie verligting sal bring (selfs net kortstondig) van die voortdurende gevegte en slegte nuus. Terwyl jy lees en dink oor die (ware) verhaal van Abraham, bid die Heilige Gees vir openbaring wanneer  hulle die verhaal in die  moskee lees, dat Jesus, die Lam van God, God se ‘grootse’ (verhewe) offerande vir hul sondes en skaamte is. Die Koran meld duidelik dat Abraham se seun vrygekoop is deur ’n ‘grootse’ (verhewe) offerande (’n ram wat God voorsien het). Laat ons vra dat hulle ook geestelike erfgename van Abraham se seëning sal word.

Lees, oordink en bid Genesis 22:1-18


15-09-10

Dag van die martelare

“Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.”

Psalm 116:15

“Hulle het ons probeer begrawe. Hulle het nie geweet ons is saad nie.”

Mexikaanse Spreuk

Elke jaar op 16 September herdenk die Libiërs die dag van die martelare ter ere van hulle wat slagoffers was van die diktatoriale regerings van Benito Mussolini (wat regeer het toe Libië ’n kolonie van Italië was) en Muammar Gaddafi. Somber herdenkingseremonies word regdeur die land gehou.

In die afgelope jare is ook Christene vir hul geloof dood. In Februarie en April 2015 is die wêreld geskok deur die wrede moorde op Egiptiese en Ethiopiese Christene. Maar selfs voor hierdie voorvalle het Christene in Libië al gely.

Op 30 Mei 2014 het Danny, ’n Irakse Christenseun, uitgegaan om saam met maats te gaan speel en nooit teruggekeer nie. Hy is doodgeskiet oor sy geloof. Danny se ma het haar getuienis gelewer tydens ’n TV-onderhoud op Sat 7, ’n stasie wat na die Arabiese wêreld uitsaai.

“Toe ons van sy moord hoor, het ons familie en vriende gehuil. Maar ek het lofsange gesing. Selfs ek was geskok oor my reaksie.

“Toe ons die laaste keer voor sy begrafnis na hom gaan kyk het, was dit baie moeilik, maar ek het vir Jesus gesê: ‘Gee my asseblief U oë om na my seun te kyk en gee my asseblief die krag om dit te kan verduur.’ Ek het gegaan, steeds aan die lofliedere sing, om my seun te sien.

“In die motor het ek my oë toegemaak en ’n visioen gesien van Danny wat wit klere en ’n kroon van blomme aanhet. Ek het Jesus op die troon sien sit en die engele om hom wat my seun verwelkom.

“Daarna het die Here my getroos en die mense wat gekom het, het my ook getroos en oor Danny gehuil. Maar ek het vir hulle gesê: ‘My seun leef in die Koninkryk en laat die naam van die Here verheerlik word.’

“Die meeste van die mense wat gekom het, was nie Christene nie en was verstom oor hoe kalm ek was en hoe ek myself getroos het.”

God het die vyand se boosheid ten goede omgeswaai en die getuienis van vergifnis teenoor die moordenaars en die boodskap van die kruis is die wêreld ingestuur.

Soos jy Openbaring 12 oordink, watter rede gee die Skrif vir vervolging en marteling? Hoe kan volgelinge van Jesus in Libië die oorwinning behaal? Bid vir hulle soos die Gees jou deur hierdie verse lei.

Lees, oordink en bid Openbaring 12:9-12


15-09-03

Die Tebu

“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”

Psalm 18:3

Twee meisies was saggies aan die praat in ’n polisiesel – nie in Arabies nie, maar in Tedaga. Een van die polisievroue in die tronk het ook hul taal gepraat.Hulle is gearresteer omdat hulle glo dronk was (wat hulle nie was nie) en hulle het die Libiërs gevloek omdat hulle onbillik gearresteer is. Hulle was baie bang dat hul families sou uitvind hulle is in die tronk (wat oneer oor hul familie sou bring), dus het hulle huis toe gebel en ’n storie versin. Een van hulle het opleiding ondergaan om ’n verpleegster te word en hulle het ’n wag gevra om voor te gee sy is ’n dokter en haar familie moes bel om te sê dat sy laat moes werk.Teen 3 vm. het die ma van een van hulle gebel, woedend, en ná die oproep het die meisie ‘n skoonmaakmiddel gegryp en dit probeer afsluk, maar die ander meisie het met haar gestoei tot sy haar op die grond gekry het en die wag geroep om melk as teenmiddel te bring. Die wag het haar gedwing om melk te drink en toe het sy geslaap.

Die volgende dag het ’n oom gekom, lank met die wag gepraat, die meisies kos gegee en toe is hulle uiteindelik vrygelaat.

Die meisies en die polisievrou is Tebu. Die Tebu in Libië is van die Teda-stam en woon in die suid-oostelike uithoek van Libië, naby Kufra. Voor die burgeroorlog was die geskatte bevolking van die Teda 4,000 in Libië, 10,000 in Niger en 28,500 in Tsjad.

Hulle is meestal nomadiese of half-nomadiese herders, maar verbou ook dadels en graan in die oases. Familiegroepe het voorkeurgebruik van sekere oases, palmbosse, verboubare grond en fonteine. Sosiale verhoudings word gebou op wisselwerking, gasvryheid en hulp. Diefstal en moord binne die familiegroep is verbode en gesteelde diere moet terugbesorg word.

Onder Muammar Gaddafi se bewind, het die Tebu (Toubou) minderheid onder geweldige diskriminasie gely. In 2007 is hulle gestroop van hul Libiese burgerskap en toegang tot onderwys en gesondheidsorg ontsê. In 2008 het ’n gewapende groep – die TFSL (Toubou Front for the Salvation of Libya) met ’n oproer teen die regering begin. Die Gaddafi-regering het voortgegaan om hulle uit hul huise te sit en die huise te vernietig.

Tydens die Revolusie van 2011 het die Tebu hulle by die rebellemagte wat teen Gaddafi was, geskaar en deelgeneem aan die Fezzan-veldtog, waartydens verskeie dorpe ingeneem is.

Hulle noem hulself die “Rotsmense” omdat hul voorvaderlike tuisland die rotsagtige Tibesti-gebergte was.

Bid dat hulle die ware Rots sal vind en hul lewens op Hom bou.

Lees, oordink en bid Matteus 7:24-27


15-08-27

Roep Uit

“Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit …”

Klaagliedere 2:19

Die nuus van die baie gevegte en gevolglike ongevalle in Libië is so oorweldigend dat dit ons sintuie afgestomp kan laat raak en ons laat vergeet dat werklike mense daarby betrokke is. Hier volg ’n boodskap, ’n desperate uitroep van ’n Libiër in ’n woestyndorp waarvan nie dikwels in die nuus gehoor word nie:“Ek het vandag hospitaal toe gegaan om my beste vriend se broer te besoek. Hy is deur ’n onbekende persoon geskiet. In die kamer het ek ’n kind van so 7, 8 jaar oud gesien. Hy het albei sy bene verloor weens hierdie lukrake mortiere. Hy was aan die slaap by sy ma in die agterplaas van die huis toe die mortiere hulle tref. Sy ma is uit mekaar geruk en op slag dood, terwyl hy sy bene verloor het.“In die hospitaalkamer was hy ’n videospeletjie aan die speel met ’n glimlag op sy gesig. Intussen het hy sy pyn probeer oorkom met verstommende wilskrag. Maar ek kon dit nie aanskou nie. Ek is vinnig die kamer uit en het baie hard begin huil, want ek kon dit nie meer vat nie. Watter aaklige soort van mens sal so iets doen? Wie is so verwronge en siek om die onskuld van ’n kind weg te neem? My vriende het my probeer troos. Hulle het vir my gesê om nie myself te kasty nie, om sterk te wees net soos daardie kind.“Ek is terug na die kamer, het vir hom geglimlag en hy het terug geglimlag. Ek het baie hard probeer om my trane in te hou … en my emosies.“Kyk net waar het ons gekom. Dit is ’n nagmerrie. Dit is nie werklik nie. Ek wil wakker word. Ek wil my dooie vriende terughê. Ek wil hê mense moet terugkeer na hoe hulle voorheen was. My God, help ons.

“Ek kan dit regtig nie meer uithou nie. Ek het genoeg hiervan gehad. Daar is ’n kreet in my wat sê ….. Stop….. Nie meer dood nie … Asseblief God, neem hierdie pyn weg.”

Laat ons verenig in gebed namens hierdie man en baie ander Libiërs wat ly. Mag hul lyding hulle lei na die Een wat hul trane wil afdroog.

Lees, oordink en bid Openbaring 21:1-7


15-08-20

Tripoli

Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.”

Romeine 15:21

Tripoli, hoofstad van Libië en die grootste stad (met ’n bevolking van omtrent 2 miljoen) is geleë in die noordweste van Libië aan die Mediterreense kus. Tot in Julie 2014 ná die revolusie was Tripoli redelik stabiel in vergelyking met Libië se tweede grootste stad in die ooste, Benghazi. Maar dit het verander toe die Islamiste die wetgewende mag in die verkiesing van 25 Junie 2014 verloor het.Net weke ná die verkiesing het gevegte tussen burgermagte uitgebreek rondom Tripoli se Internasionale Lughawe, wat byna ses weke geduur het, met 47 wat dood is en 120 gewond. Die lughawe en miljoene dollar se vliegtuie is vernietig en ’n reuse brand het uitgebreek by die olie-opgaarplek naby die lughawe. Dit het weke van brandstof-, kos- en kragtekorte vir Tripoli se inwoners veroorsaak.Misrata se ‘Operation Libya Dawn’ het uiteindelik beheer van die lughawe oorgeneem en drie dae later het lede van die gewese regering se ‘General National Congress (GNC)’ die ‘National Salvation Government’ met Omar Al-Hassi as eerste minister daargestel. Teen 1 September is die meeste van die regeringsdepartemente in Tripoli oorgeneem deur gewapende burgermagte.Intussen het die wettig verkose regering, onder leiding van Eerste Minister Abdullah Al-Thinni, uit die hoofstad gevlug en skuiling gesoek in Tobruk, wat heel na die ooste van die land geleë is. Teen vroeg Augustus het die meeste Westerse en Arabiese ambassades, sowel as die Verenigde Nasies se Hulpsending in Libië (UNSMIL), hul personeel uit Tripoli onttrek en werk nou van Malta en Tunisië af.Baie min buitelanders woon nog in die stad en die waarde van die Libiese geldstelsel het met byna 50% gedaal. Pryse styg, terwyl staatsbydraes verminder, maar tog het lewensomstandighede die afgelope jaar in die hoofstad verbeter. Mense het elektrisiteit, brandstof en kos, maar die stad bly onstabiel. In November 2014 is Tripoli se ikoniese Ghazalla-standbeeld vernietig en was daar aanvalle op ’n aantal Sufi heilige plekke uit die Ottomaanse era in die stad.In Januarie 2015 is Tripoli se grootste en modernste supermark aan die brand gesteek deur ekstremiste en later daardie maand was daar ’n terreuraanval op die luukse Corinthia-hotel, waarin 13 mense gesterf het. Ontvoerings deur kriminele elemente neem ook toe en groot bedrae geld word as losprys gevra. Al lyk dit op die oog af kalmer as in die ooste van die land, is daar altyd onderliggende vrees.Ten spyte van gevegte in sekere buurte en die gevaar waaraan sommige kinders (en hul families) blootgestel is om by die skool uit te kom, doen hulle hul bes om klasse by te woon, aangesien dit hulle die kans bied om uit die huis te kom en besig te bly.

Staan hierdie week tyd daaraan af om dié stad na die troon van God op te hef; dat sy inwoners sal uitroep na die lewende God en Waarheid, vrede en veiligheid vind.

Lees, oordink en bid Jeremia 29:12-14


15-08-14

Wonderwerke


“Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak.”

Lukas 9:1-2

Joy, ’n volgeling van Jesus, het na Libië gekom saam met haar man en kinders om beter werkgeleenthede te soek. Deur die jare het sy ’n hegte band met haar Libiese bure gesmee. Hulle het haar toewyding aan God raakgesien en was verbaas toe hulle uitvind sy vas ook, al was sy nie ’n Moslem nie.

Op ’n dag het Joy se werkgewer, Asma, vir haar vertel dat sy kanker het. Sy moes ’n operasie ondergaan en was bang dat sy sou sterf. Maar Joy het vir haar gesê: “Jy sal nie sterf nie. As jy in Jesus glo en ek vir jou bid, sal jy vir die operasie gaan en sal jy nie sterf nie.”

Joy het haar hand op Asma se buik gesit en gebid vir genesing in die naam van Jesus. Asma het die operasie in ’n ander stad gehad, maar het kontak met Joy behou en was baie dankbaar dat sy oorleef het.

Assad is ’n volgeling van Jesus. Hy het siek geword en almal het geglo hy sal sterf. ‘God sal hom straf omdat hy sy rug op Islam gedraai het,’ het hulle gedink. Maar deur die gebede van gelowiges die wêreld oor het God hom wonderbaarlik genees. Toe sy buurvrou, Hana, van sy herstel hoor, het sy besluit om Jesus te volg sodat Hy haar ook sou genees van haar kanker. Die dokters het gedink sy sou al dood wees, maar weens die gebede van baie mense het sy sterker geword.

Deur die gehoorsaamheid van diegene wat Jesus volg, kan Libiërs sien daar is krag in die naam van Jesus. In die Koran word ook gemeld dat Jesus siekes gesond gemaak het. Laat ons bid dat die krag van Jesus deur wonderwerke openbaar gemaak sal word.

Lees, oordink en bid Handelinge 4:1-14


 15-07-30

Toegang tot Gods Woord

Maar die woord van God kan nie geboei word nie.”

2 Timoteus 2:9

Die Bybel, sowel as ander Christelike lektuur in die Arabiese taal was nie welkom in Libië tydens Gaddafi se regering nie. En vandag is dit steeds so.

Abeer, ’n Arabiese vrou van ’n ander land, het ’n sterk vriendskapsband gehad met haar Libiese buurvrou, Asma. Asma was vrygewig en het vir haar geskenke en klere vir haar kinders gegee. Die aanvaar en gee van geskenke is belangrik in die Libiese kultuur. Om haar waardering en vriendskap te wys, wou Abeer vir Asma ’n Bybel gee, maar Asma het dit geweier. “Dit is verkeerd,” het sy gesê. “As ek dit aanvaar, kan ek as ’n ongelowige beskou word. God sal dink ek is sleg.”

Mohammed was ’n polisieman wat ’n gelowige opgepas het wat by die polisiestasie gevange gehou is. Mohammed was baie nuuskierig oor die Bybel wat die gelowige gehad het. Hy het van die Bybel gehoor – en dat hy dit nie moet lees nie. Maar dit het hom selfs nuuskieriger gemaak. Hy het gevra of hy na die Bybel kan kyk en die gelowige het dit vir hom gegee en ’n paar teksgedeeltes uitgewys. Hy het verduidelik dat die Psalms troos bring en waaroor die Evangelies gaan. Mohammed het die Bybel aan die gevangene teruggegee en weggegaan. Maar ’n paar minute later was hy terug. Hy wou dit vir sy vriend wys.

Moslems glo die profeet Mohammed het die eerste openbarings oor die Koran ontvang in die maand van Ramadan. Van die verse in die Koran moedig mense in werklikheid aan om die Bybel te lees, maar daar is steeds baie vrees en weerstand wat mense verhoed om die Bybel te ontvang en te lees. Tog gebruik die Heilige Gees hierdie verse in die Koran en ook die feit dat die Bybel in Libië verbied word, om mense nuuskierig te maak oor die Bybel en Jesus.

Deesdae kan mense die Arabiese Bybel van ’n webtuiste aflaai en op ’n selfoon of rekenaar lees. Dit is nou moontlik omdat daar nie ’n sentrale regering is nie. Maar mense is bang ekstremistiese groepe kan hul rekenaars of fone monitor om hulle te teiken en dood te maak. Vrees hou mense steeds gevange en weg van die Waarheid.

Terwyl ons hierdie week se gedeelte oordink, bid vir ’n toenemende begeerte en nuuskierigheid om die Bybel te lees. Bid dat die Heilige Gees hulle sal help om te verstaan.

Lees, oordink en bid Lukas 24:25-27; 44-46


15-07-23

Sekshandel

“U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed. U behartig die regsaak van die weeskind en van die mens in nood, sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.”

Psalm 10:17-18

Mensehandel is ’n winsgewende bedryf in Libië. Tydens die regering van Ghaddafi was dié soort handel deur die staat goedgekeur en beheer. ’n Paar handelaars met goeie konneksies het die grootste deel van die vervoer van vlugtelinge van Afrikalande uit sub-Sahara na Europa beheer. Ná die revolusie van 2011 het die handelbedryf baie meer winsgewend en wanordelik geraak. Enigiemand met ’n paar strategiese konneksies kon deel hê aan die multimiljoen-dollar handeldrywery.

Die donker kant van hierdie bedryf kom na vore wanneer vlugtelinge nie meer vir die vervoer kan betaal nie. In sulke gevalle word vlugtelinge dikwels in aanhoudingsentrums aangehou, gemartel, aan arbeidskampe of as seksslawe verkoop, of doodgemaak. Hierdie wrede behandeling het ook in die vorige bedeling plaasgevind. Ghaddafi was self berug vir die viktimisering van honderde slawe in private ondergrondse seks-selle.

Een getuie van sekshandel in Libië het vertel: “Hulle het eenvoudig die meisie wat hulle wou hê, gevat. Hulle het geen gewete, geen sedes, geen druppel genade gehad nie, al was sy ’n blote kind.” ’n Ander een het gesê: “Een het net verdwyn en is nooit weer gekry nie, al het haar pa en broers na haar gesoek. Nog een is drie maande later gekry waar sy in ’n park gelê het, gesny en verkrag. Sy is vir dood agtergelaat.”

Ten spyte van hierdie groot boosheid, verheug ons ons in ’n God wat daardie vergetenes in Sy hande hou. Hy vergeet nooit hul pyn nie en laat hulle nooit alleen nie. Gebruik die Psalm hieronder om uit te roep namens slawe in Libië.

Lees, oordink en bid Psalm 10


15-07-16

Eensaamheid

God laat eensames in ’n huisgesin woon.

Psalm 68:7

Daar is ’n paar kerkgeboue in Libië waar Christene van ander lande bymekaarkom om te aanbid. Libiërs word egter deur die owerheid en hul gemeenskap verbied om hierdie plekke te besoek.

Jesus het aan Rafiq verskyn toe hy ’n tiener was. Dit was ’n wonderlike oomblik wat ’n groot uitwerking op hom gehad het. Kort daarna ontmoet hy ’n ouer familielid, Ahmed, ’n volgeling van Jesus wat die Evangelie aan hom verduidelik het. Dit was toe dat Rafiq besluit het om Jesus te volg.

Baie jare het sedertdien verloop, maar Rafiq volg Jesus steeds. Hy voel soms eensaam. Hy was nog nooit in ’n kerk nie en wil bittergraag deel wees van ’n gemeenskap van gelowiges – mense van sy volk – om saam te aanbid. Maar hy mag nie na die kerke van buitelanders in sy land gaan nie. Hy wil regtig graag sien hoe dit is wanneer gelowiges bymekaarkom. Hy het dit nog nooit ervaar nie. Hy bestudeer graag die Bybel, maar het ’n groot verlange na gemeenskap met ander gelowiges.

Nog ’n Libiër vertel sy storie: “Baie jare gelede het ek na ’n kerk van buitelanders in die stad gegaan om my geloof in Jesus te bely. Die pastoor het egter geweier om my te ontmoet. Een van die ander kerkgangers het met my gepraat. Ek het vir hom gesê: ‘Ek is ’n Libiër’. Hy het gesê: ‘Dit is onmoontlik, jy kan nie ’n Libiër wees nie.’ Ek het geantwoord: ‘Die waarheid maak ons vry en ek leef in die liefde van Christus.’

“Toe ek die gebou verlaat, het ek besef waarom die pastoor nie met my wou praat nie – polisiemanne het by my motor gewag. Een van hulle het my gevra om met hom in sy motor te gaan praat. Hy het vir my gesê ek is mal. ‘Wat dink jy doen jy?’ het hy gevra. Ek het vir hom gesê ek bestudeer verskillende godsdienste en dat ek nie geweet het ek is nie veronderstel om in ’n kerk te gaan nie. Voordat ek weggegaan het, het hy my telefoonnommer, adres, waar ek studeer en nog ander goed gevra. Dit het gemaak dat ek nooit weer kon kerk toe gaan nie. Toe ek my vriend daaroor uitgevra het, het hy geantwoord dat die kerk verbied word om in my land die Woord te verkondig en dat enigeen wat ’n Christen word, die doodstraf opgelê kan word.”

Een van die moeilikste dinge vir Libiese volgelinge van Jesus is eensaamheid. Hulle smag na gemeenskap met ander gelowiges en vir die gemeenskaplike aanmoediging om sterk te staan in hul geloof. Ons, as die liggaam van Christus, kan ons Libiese broers en susters bemoedig en versterk deur ons gebede.

Vandeesweek vier Moslems die Eid al Fitr, ’n driedaglange fees om die einde van Ramadan, die heilige maand van vas, te vier. Libiese Christene sal dalk in hierdie tyd nog meer verlang na ’n geestelike familie saam met wie hulle hul geloof in Jesus kan vier.

Lees, oordink en bid 1 Korintiërs 12:12-27


15-07-09

Die Nou Poort

“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.”

Matteus 7:13

Ahlam het altyd geglo God het haar geskep en het haar lief. Toe sy ses jaar oud was, het sy begin bid en vas. Sy het graag die Koran gelees en gehuil terwyl sy lees uit liefde vir God. Terselfdertyd het sy vrae gehad wat sy nie durf vra het nie omdat sy God nie wou kwaad maak nie.

Een nag het sy gedroom sy was op ’n donker plek tussen lyke en kopbene. ’n Helderwit hand het uitgereik, haar hand gevat en opgelig. Sy het dit probeer verwerp en gevoel hoe haar hand afsak, maar die hand het haar nie laat los nie. Sy het geskree en uit die bed gespring. Sy was ontsteld, het besef dit was nie ’n gewone droom nie en vir God gevra om dit aan haar te verduidelik.

Eendag terwyl sy na verskillende TV-kanale oorgeskakel het, het sy ’n pastoor gesien wat gesê het: “Die Here lig jou uit die dood op na die lewe.” Die woorde het haar getref en sy het gewonder of sy dan dood was en of die Here haar lewe kon gee?

Ahlam het God gesmeek om haar die regte pad te wys. Sy het vyf keer per dag die rituele reiniging uitgevoer wat haar gebede voorafgegaan het, maar sy het gevoel God sê vir haar Hy kan haar gebede hoor sonder die reiniging. Terwyl sy op haar gebedsmatjie gekniel het, het God vir haar gesê Hy kan haar op enige plek hoor. Maar Ahlam was nog nie gereed om van hierdie rituele af te sien nie.

Toe, in ’n ander droom, het sy ’n helder lig gesien sonder begin of einde. Haar gees het haar liggaam verlaat en sy het haar by ’n klein oop deur bevind wat na die hemel gelei het. Voordat sy ingegaan het, het sy gesê: “In die naam van Jesus, die Lewende Een van Nasaret.” ’n Engel het gepraat en aan haar ’n nuwe naam gegee. Vreugde het haar oorweldig in hierdie rustige plek.

In die dae daarna het Ahlam vir God gevra om haar te leer terwyl sy met twyfel geworstel het. Sy het op TV gehoor hoe iemand lees: “Gaan by die nou poort in, want nou is die poort en moeilik die pad wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Wyd is die poort en breed die pad wat na verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.” Van daardie dag af het sy in Jesus geglo. Sy het die Bybel begin lees en soos haar verhouding met die Here gegroei het, het sy geweet sy is in ’n nuwe mens in die Gees verander.

“Ek word elke dag van binne gereinig,” sê Ahlam. “Jesus het die manier waarop ek ander mense sien en hoe ek optree, verander.”

Loof God wat alle mense liefhet. Hy nooi hulle na Hom toe met die woorde: “Hier is Ek, klop aan die deur.”

Lees, oordink en bid Johannes 5:24-29


15-07-03

’n Begeerte na Vergifnis

“Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind.”

Jesaja 64:6

Tydens Ramadan beoefen baie Moslems hul geloof meer toegewyd in die hoop dat hul sondes vergewe sal word. ’n Libiese broer deel hieronder iets van sy reis op soek na Jesus:

My familie is baie liefdevol en goedhartig. My ouers het hul bes gedoen om my alles te gee wat ek nodig het. Ons was ’n normale gesin wat te doen gekry het met die gewone probleme, wat nooit groter was as wat ons kon hanteer nie.

As adolessent het ek getrou begin bid. Op sestien het ek baie toegewyd geword aan rituele gebede en het soveel tyd as moontlik aan gebed gewy. Maar ek het nie na Vrydae se gebedsgeleenthede by die moskee gegaan nie omdat ek gedink het die mense is skynheilig en selfs die Sjeik (sjeg) se preke was vir my vol opgemaakte en herhalende woorde.

Ten spyte van al my gebede het ek gevoel God was baie ver van my af. Dit het gevoel asof al my gebede op die grond geval het en ek het geen antwoorde van God gekry nie. Sedert my tienerjare het ek altyd geglo die rede vir Sy stilswye was my sonde, wat ’n versperring was wat verhoed het dat ek vorentoe kon gaan in my lewe. Ek het myself oor dié sonde gehaat. Ek het soggens om 3- en 4-uur koorsagtig gebid. Ek het gehuil en gebid en God gevra om na aan my te kom en my teen my skuld en sonde te beskerm. Maar ek het nooit ’n reaksie van God gekry nie. Ek het gevoel asof Hy my nie aanvaar het nie en nie wou vergewe nie.

Hartseer was my metgesel en my sonde my vyand. Ek het myself daaraan toegewy om die Koran te lees en het die hele boek tydens die maand van Ramadan probeer lees soos baie Moslems in daardie maand doen. Ek kon dit nie regkry nie en dit was ’n groot teleurstelling vir my. Ek het gebid: “Vergewe my my skuld, O Here, want dit is groot.”

Ek het graag na die strand en ander afgesonderde plekke gegaan om alleen te wees en om nader aan God te probeer kom en met trane na Hom toe uitgeroep. Ek was steeds benoud oor my sonde. Maar steeds het dit vir my gevoel of ek nooit daarvan verlos sal word nie. Ek het geweet dit was die Duiwel wat die mensdom wil vernietig. Ek het op die Internet na antwoorde gesoek. Ek het met ’n godsdiensleier oor sonde gepraat, maar sy woorde was verskriklik en het my net banger gemaak. “God sal jou vervloek op die dag van die Opstanding!” het hy gesê. “Jy is soos ’n brandende kool in die hel en jy kan nie jou lewe verander nie – jy sal in die vuur brand.” Ek het in ’n oorweldigende vrees gelewe.

Met ’n onverbiddelike begeerte om vergewe te word, het dié Libiër Jesus uiteindelik leer ken. Tydens Ramadan sal baie Libiërs meer bid en die Koran deurlees op soek na vergifnis. En tog sal hulle teleurgesteld en leeg voel. Gebruik die Psalm hieronder om uit te roep namens die Libiërs. Bid vir ’n groter honger na vergifnis wat hulle sal dring om na God te roep.

Lees, oordink en bid Psalm 51


15-06-25

Nader aan God getrek – ’n gelowige se verhaal

So sê die HERE: “Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind.

Jeremia 6:16

“Ek is ’n Libiër uit ’n Moslem-agtergrond. Ek het Jesus Christus as my Heer en Verlosser aangeneem en ek weet Hy was, is en sal altyd die weg, die waarheid en die lewe wees.

“Toe ek jonger was, het ek alles gelees en beoefen wat ek gedink het my nader aan God sal bring. Tot een aand ’n paar jaar gelede tydens die maand van Ramadan. Nadat ek klaar gebid het, het ek gehoor hoe ’n uitlander op televisie praat van hoe God afgekom het om te betaal vir die sondes wat ons almal gedoen het. Ek het gehoor hoe God ons vergewe het en ons die ewige lewe aanbied as ons Sy werk aan die kruis aanvaar. Iets het in my geroer. Dit was anders as wat ek in die Koran gehoor het en ek wou meer weet. Ek het gevoel asof ek bedwelm was en op ’n doodlooppad gelei was in al die jare van my soeke.

“Ek het na Christelike TV-programme gekyk en God het my vae begrip reggestel en my honger om Hom te ken, gestil. Op daardie tydstip was televisie al beskikbare wyse om van Hom te leer.

“Ná ’n tyd het ek besef ek het Jesus in my lewe nodig. Ek het gesien Hy was nie slegs ’n profeet wat ’n voorbeeld vir regverdigheid was nie, maar Hy was ook my God wat my liefhet. Hy het Homself aan die kruis geoffer om my te red en vir my hoop, lewe en troos te gee – veral in die moeilikste tye van my lewe.

“Ek het baie teologiese vrae gehad, maar deur gebed het die Here geleidelik al die antwoorde aan my geopenbaar en ek het na die ware pad in Hom gekom. Amen.”

Dié maand (Ramadan) vas Libiërs (saam met Moslems die wêreld oor). Laat ons namens hulle tot God uitroep; dat hulle die Vader se liefde vir hulle deur Jesus Christus sal verstaan.

Lees, oordink en bid Johannes 14:20-29


15-06-18

Ramadan

“In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ’n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.”

Jesaja 11:10

Hend is ’n 20-jarige vrou wat in ’n klein Libiese dorpie woon. Sy hou baie van Ramadan, waartydens Moslems die wêreld oor vas van dagbreek tot die son sak. Hend het met die volle vas – waarin geen kos of vloeistof geneem word nie – begin toe sy maar net 12 jaar oud was. Sy is nie gedwing om op so ’n jong ouderdom te begin vas nie; sy wou vas omdat sy deel wou voel van die Moslem-gemeenskap wêreldwyd.

Ramadan is ook ’n tyd om spesiale gebede op te sê en die hele Koran deur te lees. Dié maand van vas is een van die vyf pilare van Islam (wat verpligtings is wat Moslems moet nakom om na die Paradys te kan gaan). In dié maand is dit moontlik om jou belonings van God te verdubbel en om vergifnis van sondes wat begaan is, te soek. Elke oggend voor dagbreek staan Hend en haar familie op om hul laaste ete te eet en die eerste gebed van die dag te bid en daarna eet of drink hulle niks nie totdat die vas ná sononder verbreek word. Nadat die vas verbreek is met dadels en melk, kom haar familie in die woonkamer byeen en lei een van haar ooms hulle in die sonsondergang-gebed. Hulle eet aandete, dan gaan die mans in die familie na die moskee en bid die laaste gebed van die dag, terwyl Hend, haar susters en ma by die huis bid. Die dag eindig met ’n vrywillige Ramadan-gebed, die Taraweeh, terwyl gedeeltes uit die Koran opgesê word.

Hend hou baie van dié aande. Benewens die spesiale gebede, word daar ook geëet en vriende en bure besoek.

Vanjaar is Ramadan minder vreugdevol as voorheen. Almal in Hend se familie is bekommerd oor die toekoms. Hulle verlang na vrede. Hulle hoop God sal hul gebede vir ’n beter toekoms tydens dié Ramadan verhoor.

Lees, oordink en bid Efesiërs 2


15-06-11

Uitdagings om Jesus te volg

 “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

2 Korintiërs 5:17

“My lewe het heeltemal verander sedert ek ’n volgeling van Jesus Christus geword het. Ek het begin om alle mense onvoorwaardelik lief te hê, ongeag wie hulle is of waarvandaan hulle kom. Ek het geleer om mense te vergewe as hulle my te na gekom het. Met ander woorde, ek het ’n nuwe mens geword.

“Desondanks is daar baie uitdagings vir my as ’n volgeling van Jesus in Libië. My familie, veral my ouers, plaas druk op my en vra voortdurend waarom doen ek nie die Salaat nie – die vyf daaglikse gebede in Islam. Soms op Vrydae gaan ek vir gebed na die moskee net sodat hulle moet ophou om my daaroor lastig te val. My ouers is godsdienstig. My pa gaan na die moskee en my ma lees die Koran elke dag. My verhouding met my ouers is gespanne. Daarby woon ons in ’n gemeenskap wat eer en reputasie hoog ag; as mense van my geloof sou weet, sal my ouers se reputasie – sowel as my hele familie s’n – besoedel wees. Ek sal as ’n skande beskou word en dit sal my familie vir jare agtervolg.

“Ek woon in ’n Moslem-gemeenskap, dus moet Islamitiese wette toegepas word. Met ander woorde, ek kan doodgemaak word vir afvalligheid, vir die verwerping van Islam.

“Diegene in my gemeenskap wat besluit om Jesus te volg, ly onder allerhande soorte vervolging.”

Ramadan, die heilige maand van vas vir Moslems, begin oor ’n week. Baie gelowiges, soos ons Libiese broer wat die gedeelte hierbo geskryf het, worstel met die vrae: “Wat maak ’n volgeling van Jesus in dié tyd? Hoe eer ek God en bring my familie na Hom toe? Hoe lei ek my lewe as ’n volgeling van Jesus in my kultuur?” Laat ons hulle in gebed ondersteun.

Lees, oordink en bid Handelinge 15:6-20


15-06-04

’n Verhaal van 2 Regerings

“Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het.”

Daniël 2:20-21

Sedert Julie 2014 word Libië deur twee regerings regeer: die “National Salvation Government” in Tripoli en die Huis van Verteenwoordigers onder leiding van Eerste Minister Abdulla al-Thinni in Tobruk.

Die regering het in twee verdeel ná die verkiesing van die Huis van Verteenwoordigers op 25 Junie. Die Islamiete het die meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers verloor. Die spanning het hoog geloop, deels vanweë die loodsing van ’n veldtog om ekstremiste in die ooste van die land uit te dryf. Net voordat die Huis van Verteenwoordigers aan die bewind sou kom, het die Misrata-brigades – ook bekend as “Libya Dawn” – die lughawe in Tripoli aangeval en dit het uitgeloop op gevegte wat twee weke aangehou het. Die lughawe is heeltemal vernietig en die nabygeleë Brega Petroleum-aanleg aangeval.

Tripoli is as onstabiel beskou en die meerderheid van die pasgekose lede van die Huis van Verteenwoordigers het ingestem om die wetgewende liggaam na Tobruk te verskuif. Toe hulle eers in die Ooste gevestig is, het die Misrata-brigades alle staatsdepartemente in Tripoli oorgeneem en die “National Salvation Government” onder Eerste Minister Omar Al-Hassi tot stand gebring.

In Oktober 2014 het die Libiese Hooggeregshof beslis dat die Junie-verkiesing onwettig was en beveel dat die Huis van Verteenwoordigers ontbind word. Geen rede is egter vir die beslissing gegee nie en die Huis van Verteenwoordigers (in Tobruk) en die internasionale gemeenskap het dit geïgnoreer.

Die Verenigde Nasies se Hulpsending in Libië (“UNSMIL”) werk met Libiese leiers van al die kante om ’n verenigde regering te vorm. UNSMIL het die opheffing van sy wapenverbod voorwaardelik gemaak vir die vorming van so ’n regering. Intussen oefen die Libiese Nasionale Leër (wat die regering in Tobruk verteenwoordig) – met die steun van Egipte – druk uit vir die onmiddellike opheffing van die verbod. Hulle voer aan dat chaos toegeneem en die teenwoordigheid van die Islamitiese Staat versterk het omdat daar nie wapens is nie.

Albei kante van die regering het versoek dat aan sekere “voorwaardes” voldoen moet word voordat deelgeneem word aan VN-geborgde samesprekings. Die Huis van Verteenwoordigers voel die internasionale gemeenskap gee oormatige dekking aan die Islamiste regering (Tripoli) bloot omdat hulle “met vuurwapens opgedaag het” nadat hulle die verkiesing verloor het.

Diegene wat hulle met die “National Salvation Government” vereenselwig, glo hul oorname van Tripoli was geregverdig en dat hulle daarom ook ’n sê moet hê.

Intussen ding verskeie ander groepe binne en buite die twee strydende regerings ook mee met hul eie agendas, wat die taak bemoeilik om die verdeeldheid uit die weg te ruim.

Die meerderheid Libiërs is moeg vir die vetes tussen die faksies. Burgers wil hê stabiliteit en sekuriteit moet herstel word sodat hulle weer normale lewens kan lei.

Wanneer ons dié week vir die Libiese regering(s) bid, vra die Gees om Sy planne te openbaar. Watter soort regering sal die voordeligste wees om die oes in te bring?

Lees, oordink en bid Jesaja 9:5-6


15-05-29

Jesus, die Een wat Bemoedig

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die HERE sorg vir my.

Psalm 3:6

Hamid het van Jesus gehoor en was geboei. Sonder dat sy familie daarvan geweet het, het hy op ’n Christelike TV-stasie ingeskakel en besluit om Jesus te volg.

Toe geweld Libië vasgevang het, het Hamid en sy familie besluit om die land kortstondig te verlaat. Tydens hul verblyf in hul gasheerland het Hamid – sonder sukses – kerk toe probeer gaan. Sy familie het agterdogtig begin raak oor sy toegewydheid aand Jesus hulle was ongelukkig daaroor. Hy het bang geword en was later beangs om na Libië terug te keer.

Hamid het ’n droom gehad waarin hy op ’n donker plek geloop het, vreesbevange en huilend. Hy het ’n man ontmoet wat hom gevra het wat verkeerd is. “Ek is bang om my reis voort te sit,” het hy geantwoord. “Dit is baie donker.”

Die man het gesê: “Gaan voort en jy sal ’n huis kry waar hulle mense wat in nood is, help.” Hamid het aanhou loop totdat hy die huis gekry het. Hy het aangeklop en ’n bebaarde man wat helder was en in wit geklee, het die deur oopgemaak. Die man het hom gevra: “Waarom huil jy?”
“Ek is bang om in die donker te loop,” het Hamid gesê.

“Jy is nou onder my beskerming,” het die man gesê. “Niks sal jou bang maak nie. Kom in.”
Ná die droom het Hamid na Libië teruggekeer en getrou aan Jesus gebly.

Khaled, nog ’n gelowige, het aan ’n godsdienstige man vertel hoe Jesus in ’n droom aan hom verskyn het. Die man het met hom gestry en hom vir Islam probeer terugwen. Op ’n dag het hy na Khaled toe gekom en hom vertel van ’n droom waarin Jesus aan hom gesê het dit is tyd dat hy vir Hom moet werk. Hy het besluit om ’n volgeling van Jesus te word.

Selfs al is daar min toegang tot die Evangelie, reageer Libiërs wanneer Jesus hulle na Hom toe roep. Menslike krag en godsdienstige wette kan Jesus nie uit hou nie. Loof God en vra Hom vir ’n selfs groter uitstorting van Sy Gees en openbaring vir die Libiërs.

Lees, bid en oordink Joël 2:28-32


15-05-21

Lyding van Onwettige Migrante a.g.v.

Libië se Onstabiliteit

“Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere.

Deuteronomium 10:17-18

Op 18 April vanjaar het ’n vlugtelingboot met meer as 700 mense in die Mediterreense see tussen Libië en die Italiaanse eiland Lampedusa omgeslaan. Slegs 28 mense is gered.

Libië se kus is net omtrent 300 kilometer van Lampedusa. Die eiland huisves duisende onwettige immigrante.

Libië word dikwels as ’n deurgangsland vir migrante van Afrika gebruik. Ná die rewolusie van 2011 waartydens Ghaddafi uit die kussings gelig is, het die smokkel van mense ’n florerende bedryf geword. Libië het ’n kuslyn van 1,770 kilometer en woestyngrense van 5,000 kilometer wat yl bevolk is. Met geen doeltreffende sentrale regeringsmag nie, werk smokkelaars openlik. Die militias wat die grootste deel van Libië beheer, maak na bewering hope geld uit die smokkel van mense deur dit òf self te reël òf groepe wat deur hul gebied reis, te laat betaal. Vanweë die toenemende aanvraag vra smokkelaars al meer. Hulle maak tienduisende dollar uit elke oorlaaide boot wat uit Libië vertrek.

Sommige smokkelaars gebruik selfs Facebook om te adverteer vir migrante wat desperaat is om van die oorlog en armoede in die Midde-Ooste en Afrika weg te kom.

Volgens die Verenigde Nasies het meer as 110,000 migrante net in 2014 deur Libiese gebied beweeg. Minstens 1,300 mense het in die eerste drie weke van April gesterf, wat 2015 die dodelikste jaar ooit vir vlugtelinge kan maak.

Hoe kan dié onwettige immigrasie stopgesit word? Hoe kan die probleme wat hierdie migrante sover dryf om hul lewens te waag om in Europa te probeer uitkom, opgelos word? Dit is ’n veelkantige probleem: armoede, oorlog, gierige smokkelaars, regerings wat nie omgee nie en korrupte amptenare. Jesus het vir ons gesê God weet wanneer ’n mossie na die grond toe val, hoeveel te meer waarde sal Hy nie aan die lewens van dié immigrante heg nie?

Raak stil in jou hart voor God en vra die Heilige Gees om jou te lei om te bid vir die migrante, die smokkelaars en die onderskeie regerings (Libië, Afrika, Midde-Oosters en Europees). Het die globale kerk ’n verantwoordelikheid?

Lees, oordink en bid Matteus 25: 31-46


15-05-15

Die Weg, die Waarheid en die Lewe

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Johannes 14:6

Jahja het in ’n tipiese Islamitiese omgewing grootgeword. Hy het die Koran begin bestudeer toe hy 8 jaar oud geword het. Ná hoër skool het hy op universiteit bevriend geraak met ’n jong man, Radwhaan. Radwhaan was reeds ’n aantal jare ’n volgeling van Jesus, maar het dit nie aanvanklik vir Jahja vertel nie. Toe hy hom ’n aantal maande later van sy geloof vertel, was Jahja geskok. Hy het besluit om nie meer met Radwhaan te praat nie omdat hy ’n ‘ongelowige’ was. Maar twee weke later was Jahja genoodsaak om met sy vriend versoen te raak en uit te vind waarom hy Islam verwerp het.

 

Hulle het ure en dae deurgebring terwyl hulle oor albei gelowe gepraat het. Jahja het Islam probeer verdedig en Radwhaan se geloof probeer vernietig, maar het agtergekom sy eie argumente is swak en ongegrond teenoor dié van Radwhaan.

Jahja se verwardheid het daagliks toegeneem. Die gesprekke het onthul dat sy geloof onwaar was en bloot iets wat hy van sy familie geërf het. Hy het Islam verwerp. Hy het ’n ateïs geword en mense verag wat godsdienstig is, veral Moslems en Christene. Hy het in depressie verval. Sy verstand het vir hom gesê om nie meer aan God te dink nie, maar sy hart het na ’n verlosser gesmag.

Daarna was hy in ’n ernstige motorongeluk, maar het wonderbaarlik oorleef. Terwyl hy herstel het, het hy aan sy ewige bestemming gedink. Waarheen sal hy ná sy dood gaan? As God werklik is, sal hy hemel of hel toe gaan? Hy het in erns na die waarheid gesoek en die internet gefynkam om meer oor Jesus uit te vind. Hoe meer hy oor Jesus gelees het, hoe liewer het hy vir Hom geword, maar iets het hom gedring om van Jesus weg te bly.

Op ’n dag het hy uit desperaatheid begin huil en God gesmeek om Hom te openbaar. Kort daarna het Jahja ’n droom gehad. ’n Man het na hom toe gekom met sy arms oop asof hy Jahja wou omhels. Al wat die man gesê het, was “Jesus”. Jahja het wakker geword en geweet Jesus is die waarheid, die weg en die lewe en het Hom onmiddellik as Here en Verlosser aanvaar.

Lees, oordink en bid: Johannes 10:9-16


 15-05-07

Uitwerking van die Voortdurende

Geweld en Onstabiliteit

Verder het ek ook nog al die verdrukking in hierdie wêreld gesien. Die verdruktes kla, maar niemand help hulle nie; daar is niemand wat help teen die geweld van die verdrukkers nie.

Prediker 4:1

’n Bakleiery het uitgebreek terwyl kinders met ’n bal gespeel het. Die hitte en vogtigheid het almal geïrriteerd gemaak, maar die onsekerheid in die land was die eintlike oorsaak van die onderliggende spanning. Toe die kinders op mekaar begin skree en handgemeen raak, het een van die pa’s uitgekom en sy kinders se beledigers aangeval. Hulle het huis toe gehardloop en hul eie pa vertel wat gebeur het. Woedend het hy een van sy gewere gegryp en uitgestorm terwyl hy die buurkinders en hul pa vervloek. Met die trek van die sneller het die man sy buurman doodgemaak.

Soos die gebeure wyer bekend geraak het, het die broers en neefs van die vermoorde man almal van hul dorp na die stad gereis en nog meer gewere en groter wapens saamgebring. Uit weerwraak het hulle die moordenaar doodgemaak en sy huis met vuurpylgranate vernietig.

Volgens ’n opname wat in Oktober 2013 voltooi is, sukkel byna ’n derde van Libiërs met geestesgesondheid probleme weens die voortdurende geweld en wetteloosheid. Die situasie kon sedertdien vererger het. Mense is moeg vir die geweld en tog kom daar nie ’n einde aan nie, ook nie aan die bitterheid en haat nie. Hul drome van ’n beter toekoms is verpletter. Laat ons hulle oplig na die troon van Genade; dat hul ore geopen kan word vir die stem van die Goeie Herder.

Lees, bid en oordink Jesaja 30:15-21


15-05-01

Werkers

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en My dissipels is.

Johannes 15:8

In die laaste jare het Libië buitelanders van Afrika, Asië en die Midde-Ooste gelok met werkgeleenthede en aantreklike salarisse. Sommiges is hoogs geskoolde mense wat aangetref word in mediese beroepe, ingenieursprojekte, die sakewêreld en opvoeding. Diegene met minder opleiding doen handearbeid en spaar soveel as moontlik om aan familie by die huis te stuur.

Die getal buitelanders het minder geword vanweë die voortdurende geweld en politieke onstabiliteit, maar baie bly nog. Van hierdie buitelanders is naamchristene wat hul godsdiens sien as deel van hul kulturele identiteit, terwyl ander in ’n verhouding met die Lewende God is. Onder laasgenoemdes is mense wat hul werk sien as ’n verlengstuk van hul roeping om die lig en die sout vir die wêreld te wees.

Baie buitelandse gelowiges bly egter stil uit vrees. Oor die afgelope jare is party doodgemaak, aangeval of aangehou oor hul geloof. Dit is skynbaar die boodskap: behou ’n lae profiel en moenie die Evangelie deel nie.

Dié week vier baie lande Werkersdag. Vra die Here van die oes om meer werkers te stuur en om werkers van sowel binne as buite Libië te roep om die lande te oes. Vra die Heilige Gees om die hindernisse bloot te lê wat gelowiges verhoed om op Sy oproep te antwoord en bid dat dit oorkom sal word.

Lees, oordink en bid Romeine 10:13-16


15-04-23

Sebha

Maar ek mag nie besorg wees …, die groot stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?

Jona 4:11

Sebha is ’n woestyndorp naby ’n oase in die suidweste van Libië met ’n bevolking van omtrent 130,000. Geskiedkundig is dit die hoofstad van die Fezzan-streek. Dit was een van Gaddafi se tradisionele vestings en was die laaste wat in die hande van die rebelle geval het in die 2011-revolusie.

Sedert 2012 het Arabiese etniese en swart Afrika-stamme gebots in hul wedywering vir plaaslike mag en internasionale erkenning. Spanning tussen die Tebu-krygers van swart Afrika-afkoms en Arabiese etniese stamme sorg vir aanhoudende onbestendigheid.

Weens die gebrek aan regeringsbeheer bied die suidelike grensstreke ’n ideale veilige hawe en vormingsgebied vir streeknetwerke van Islamitiese ekstremiste. Aan die begin van 2015 het geaffilieerdes van die Islamitiese Staat ’n aanval geloods op regeringsoldate naby Sebha en 14 van hulle doodgemaak.

Sebha is ’n belangrike deurgangdorp vir reise deur die Sahara met swaargelaaide vragmotors vol mense en ander vrag vir bestemmings soos Tsjad, Niger en Algerië. Geestelik is hierdie dorp baie donker en swaar. Vroue is betrokke by die okkulte en toordery en is in aanvraag om vloeke oor ander mense uit te spreek. Tog is daar reeds ’n paar saadjies van die Evangelie in hierdie dorp gesaai:

Baie jare gelede het ’n Egiptiese Koptiese Christen-gesin langs Halima se gesin in Sebha gewoon. Halima en haar susters het met die kinders gespeel en was baie nuuskierig oor hul anderster godsdienstige vierings. Een Goeie Vrydag het Halima hulle oor dié spesifieke dag uitgevra. Haar vriende wou net verduidelik, toe die ma ingryp en haar kinders vinnig wegneem. Jare later het Halima (wat sedertdien na ’n ander dorp verhuis het) steeds gewonder waarom hierdie gesin so bang was om oor hul geloof te praat, maar meer nog, dié voorval het in haar ’n nuuskierigheid wakker gemaak oor Goeie Vrydag en Jesus.

Lees, oordink en bid Jona 3:5-10


15-04-17

Families van Gelowiges

God het die liggaam so saamgestel … maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

1 Korintiërs 12:24-26

’n Buitelandse Arabiese man en sy vriende is geslaan en opgesluit op aanklag van evangelisering. Terwyl sy vrou God se genade ervaar het, het ’n stryd ook in haar binneste gewoed. Die landheer en bure het druk op haar uitgeoefen om weg te gaan. Toe sy haar man in die tronk probeer besoek het, het die polisie en owerheid haar vyandig behandel. Sy was vol vrese: “Neem ek die regte besluite? Moes ek dinge anders gedoen het?” Haar kinders is by die skool en deur hul vriende verstoot. Op ’n dag het hulle hul pa besoek en uit sy bebloede gesig kon hulle sien hy is geslaan. Hul jong seun het opgegooi toe hulle by die huis kom en het erge nagmerries gekry.

Die gesinne van gelowiges in lande soos Libië kry swaar. Hul ongelowige familielede plaas druk op hulle om hul geloof te verloën. Sommige gelowiges kan nie werk kry sodat hulle hul gesinne kan onderhou nie. Hul kinders word verstoot by die skool. Ander vrees hul eggenoot of kinders kan ontvoer of doodgemaak word. Hierdie druk plaas spanning op verhoudings en huwelike. Die vyand se taktiek is om te intimideer en verdeeldheid te veroorsaak.

Laat ons saamstaan met plaaslike gelowiges en hul gesinne in hul lyding en hulle oplig na die troon van God

Lees, oordink en bid Psalm 18


15-04-09

Openbaring van Jesus

Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjonah,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”

Matteus 16:16-17

Die vraag het in my gebrand. “Ahmed, droom jy?”

“Ja, natuurlik,” het hy gesê.

“Het jy ooit ’n man met wit klere aan in jou drome gesien?”

“Ja!” het hy geantwoord.

“Wel, Ahmed, vertel my wat jy gesien het.”

Hy het my vertel dat hy hierdie man verskeie kere in sy drome gesien het, maar nie geweet het wie hy is nie. “Maar hy het my opdrag gegee om dinge te doen, soos om my eensame ouma te besoek en geld aan die armes te gee.”

Ek het geglimlag. Ja, ek het ook hierdie man geken, selfs al het ek hom nooit in ’n droom gesien nie. Ek het gevra: “En jy doen hierdie dinge, selfs al weet jy nie wie hy is nie? Ek bedoel, jy weet nie of hy goed of sleg is nie. Wie is hy?”

“O, hy is ’n goeie man,” het Ahmed beslis gesê. “Ek weet dit vir seker.”

Ek het vir Ahmed gesê dat as dié man weer in ’n droom na hom toe kom, hy sy naam moet vra.

Bid vir Ahmed en baie ander soos hy wat voorberei word op ’n persoonlike openbaring van die Seun van die Mens self.

Lees, oordink en bid Johannes 3:13-18


15-04-02

Wie is Jesus?

Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

Kolossense 1:15

Ali is ’n winkeleienaar in die medina, die ou dorp. Toe Susan, ’n buitelander, sy winkel binnegaan, het hy haar gevra: “Is jy ’n Christen of Moslem?” Sy het gesê sy is ’n Christen. Hy het voorgestel sy lees die Koran omdat daar ’n hoofstuk in is oor Jesus en Maria. Sy het geantwoord dat al wat sy hoef te weet, reeds in die Bybel is.

“So, wat het die Bybel?” wou Ali weet.

“Alles wat ek nodig het vir lewe,” het Susan geantwoord.

Ali was gereed om te stry. “Wie is Jesus?” het hy gevra. Susan het hom vertel Jesus is die Woord van God.

“Wie is God en waar is Hy?” wou Ali weet.

“Hy is die skepper van die heelal; Hy is in die hemel en Sy Gees is so naby soos die slagaar in jou nek. En weet jy wie die Koran en die Bybel sê nooit gesondig het nie?”

Ali het geantwoord dat almal gesondig het. Susan het stilgebly, dus het Ali gesê dat nie een van die boodskappers (profete) gesondig het nie. Susan het geantwoord dat net een mens nie gesondig het nie.

“Was dit dus Jesus?” wou Ali weet, nou al ernstig om die antwoord te kry.

Susan het geantwoord: “As Christene glo ons nie maar net alles wat ons hoor nie, ons soek in die Heilige Skrif en vra God om ons te wys.”

Baie Libiërs sê dalk hulle glo in Jesus. Hulle erken dat Hy die Woord van God is, maar vir hulle was Jesus net ’n goeie man, nog ’n profeet van God. Hulle ontken sy dood aan die kruis (en dus sy opstanding) en dat Hy die Weg na die Vader is. Slegs die Gees van God kan aan die mens openbaar dat Jesus die Seun van God is. Laat ons aanhou vra vir hierdie openbaring aan ons verlore vriende in Libië.

Lees, oordink en bid Johannes 1:1-37


15-03-26

Sirte

Die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Psalm 46: 9-10

Die onthoofding van 21 Koptiese Christene deur geaffilieerdes van die IS in Libië het die wêreld geskok. Die Christene is ’n maand tevore ontvoer in Sirte, ’n kusstad wat halfpad tussen Tripoli en Benghazi geleë is.

Sirte het as ’n administratiewe sentrum gedien onder die Italiaanse regering, wat van 1911 tot 1934 geduur het. Toe olie daar naby ontdek is, het die belangrikheid van die dorp toegeneem en het sy bevolking tot byna 80,000 gestyg. Dit was ook Gaddafi se tuisdorp. Hy is daar gebore en het ook uiteindelik daar gesterf. Gaddafi se rykdom het baie van die dorp se ontwikkeling befonds. Dit het bekend geword as ’n ryk stad met luukse huise, waarvan die meeste heeltemal vernietig is tydens die revolusie.

Sirte het uitgebrei as ’n basis vir strydende magte sedert die oproer van 2011 wat Muammar Gaddafi se regering omver gewerp het. ’n Regeringsamptenaar het beraam dat ongeveer 1,000 militante in die stad gebaseer is.

In Desember 2014 is ’n Egiptiese Christen-dokter en sy vrou in hul huis in dieselfde stad vermoor. Die aanvallers het ook hul 13-jarige dogter ontvoer. Haar lyk is ’n paar dae later gekry. Die voorsitter van die plaaslike raad van Sirte het verklaar die motief vir die aanvalle was godsdiens.

Die stad is ’n vesting van Ansar alSharia, ’n Islamitiese groep wat deur die Verenigde Nasies op die swart lys geplaas is. Die Islamities-gerugsteunde Fajr Libya (Libya Dawn) -koalisie beheer sommige dele van Sirte. In Desember het hulle aanvalle geloods op nabygeleë olie-aanlegte. In Februarie het ’n gewapende groep die Mabruk-olieveld omtrent 170 kilometer suidoos van Sirte aangeval, vier petroleumaanlegwagte doodgemaak en drie Filippynse werkers saamgeneem. Die aanvallers het beweer hulle is lede van die Islamitiese Staat (IS).

Wanneer ons bid vir Sirte, vra die Heilige Gees om God se hart en Sy bedoeling vir die stad duidelik te maak. Gee ons terugvoer op info@pray4libya.net

Lees, oordink en bid Psalm 75


15-03-19

Moeders

“Soos ʼn herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”

Jes. 40:11

Daar is groot respek vir moeders in die Libiese kultuur. Iemand het eenkeer verduidelik: “Die Hemel is onder die voete van die moeder. Jy moet seker maak jy behandel jou ma goed. As jy dit nie doen nie, vertel sy dalk vir God en dan is jy in die moeilikheid omdat sy ’n spesiale verhouding met God het.”

Fatma hou ’n video-opname van haar oudste seun, wat tydens die revolusie geneem is, op haar foon. In die video verduidelik hy waarom hy in die revolusie veg. Hy was in Maleisië en het teruggekeer om sy land te help.

Op ’n dag bel hy sy ouers en sê hy sien hulle vir middagete. Fatma was opgewonde om hom ná ’n lang tyd te sien (sy het hom nie gesien sedert sy terugkeer van Maleisië nie). Maar daardie middag het ʼn paar mans opgedaag met die liggaam van haar seun—wat pas in die geveg gesterf het op die laaste dag van die revolusie.

Dit is vir Fatma moeilik om sy dood te verwerk. Gelukkig het ʼn gesin langsaan ingetrek en bied die jong kinders van daardie gesin haar ʼn mate van troos.

Vandeesweek, op 21 Maart, word Moedersdag in Libië gevier. Vir baie moeders sal dit ʼn hartseer dag wees, ʼn herinnering aan die kinders wat hulle verloor het, nie net in die revolusie nie, maar in die geweld agterna. Ander leef in vrees om hul kinders veilig te hou. Hulle is bekommerd elke keer as hul kinders skool of winkel toe gaan.

Lees, oordink en bid Matt. 11:25-30


15-03-12

’n Hedendaagse Saul?

“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”

Matt. 5:44-45

Abdullah is ’n toegewyde, vroom Moslem. Sy doel in die lewe is om Moslems aan te moedig om beter Moslems te wees en om nie-Moslems tot Islam te bekeer. Hy werk ook vir ’n veiligheidstak van die regering.

Op ’n dag het sy eenheid vir Ayoub, ’n buitelandse Arabier-gelowige, gevang op aanklagte dat hy mense to die Christendom wil bekeer. Die bevelvoerder van die eenheid het Abdullah beveel om Ayoub te slaan. Abdullah het gehuiwer en sy godsdienstige leier gebel met die vraag, “As ek dié Christen slaan, sal dit God behaag?” “Ja,” was die antwoord. Dus het Abdullah vir Ayoub baie erg geslaan. Hy wou trouens regtig vir God tevrede stel. Hy het Ayoub geslaan en dan later in die nag na hom toe gaan om hom tot Islam te probeer bekeer.

Op ’n ander keer moes hy Ayoub se Bybel afvat. Weer het hy die godsdienstige leier gebel: “Sal God ingenome wees as ek dié Bybel by hom afvat?” Weer het sy leier ja gesê.

Nadat Ayoub uit die tronk vrygelaat is, het hy Abdullah begin bel. Aanvanklik was Abdullah nie te vriendelik nie. “Waarom bel Ayoub? Moet hy my nie haat omdat ek hom so geslaan het nie?” Maar Ayoub het nie daaroor gepraat nie, maar net oor die liefde van God. Mettertyd het Abdullah meer toegeneë geraak.

Soms praat Abdullah oor Islam, hoe hy God dien en hoe hy bid. Ayoub vertel van God se liefde en wat dit beteken om ’n verhouding met die lewende God te hê.

Abdullah ken die 99 name van God in the Qur’an. Hy weet God is groot en magtig, maar hy weet nie God is liefde nie en dat God hom baie liefhet nie.

Lees, oordink en bid Hand. 9:1-21


15-03-05

Vrese van Gelowiges

 “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.”

Luk. 12:4-5

 Ahmed is ’n nuwe gelowige wat deur ’n TV-program gelowig geword het. Hy word bemoedig deur die wete dat daar ander soos hy is en maak kontak met hulle op die internet, maar is te bang om hulle van aangesig tot aangesig te ontmoet. “Hoe kan ek weet ek kan hulle vertrou en dat hulle my nie by die polisie sal verkla nie?” wil hy weet.

Tydens 3 maande van gebed en vas vir Libië het ’n paar uitgeweke gelowiges besluit om 3 dae toe te wy daaraan om die gees van vrees te verbreek. Die volgende week is van hulle in hegtenis geneem en aangehou; Egiptiese broers is gemartel en een het sy lewe as gevolg daarvan verloor.

Sedertdien was daar nog berigte van mense wat doodgemaak of gevang is vanweë hul geloof. Om die naam van Christus uit te dra, is gevaarlik in Libië en om die groot opdrag te gehoorsaam, kan jou jou lewe kos. Sommige buitelandse gelowiges word meer toegeeflik behandel, maar plaaslike gelowiges het geen wette om hulle te beskerm nie. Om die waarheid te sê, die wet verdoem hulle. Baie gelowiges vrees ’n familielid kan hulle doodmaak as ’n daad van ‘gehoorsaamheid aan God’. Soms sal ’n werkgewer salarisse terughou as hy weet ’n werknemer is ’n gelowige. Sommige godsdienstige groepe bestaan oënskynlik met die uitsluitlike doel om enige plaaslike inwoner wat die naam van Jesus bely, dood te maak. Vrees keer ons gelowige broers en susters om die Goeie Nuus te deel en saam te aanbid.

Sal jy dit oorweeg om dié week vir Libiese gelowiges te vas? Vra die Heilige Gees om jou te lei oor hoe om die Gees van vrees oor gelowiges te verbreek.

Lees, oordink en bid Matt. 10:16-33


15-02-26

Persepsies oor Christelikheid

Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

Kol. 4:6

Fatima is ’n ongetroude vrou in haar vroeë twintigs wat in ’n klein dorpie woon. Sy kom nooit sonder haar kopdoek voor ’n man nie (behalwe haar pa, broers, neefs en eendag haar man) en verkies om ’n lang jas oor haar klere te dra wanneer sy uitgaan. Sy weet ’n vrou se reputasie moet opgepas word, dus trek sy beskeie en fatsoenlik aan. Sy hou van tradisie en godsdienstige feeste wat hulle saam vier. Dit laat haar deel voel van haar familie, sowel as die Libiese gemeenskap en die groter Moslemgemeenskap die wêreld oor.

Fatima weet nie veel van Christelikheid nie, maar wat haar daarvan voorgehou is, ontstel haar: Christene dra ontblotende klere, drink en rook en het seksuele verhoudings buite die huwelik. Haar familie haat die gerugte dat mense Libië wil kersten. Hulle verafsku die gedagte dat hul vroue in minirokke sou uitgaan en rook. Hulle wil nie hê die korrupte Christen-leefstyl wat hulle in Hollywood-flieks sien, moet hul gemeenskap binnesypel nie.

Sommige vroue sou meer vryheid wou hê om te kies wanneer om die kopdoek te dra of nie. Maar hulle beskou Christelikheid steeds in ’n negatiewe lig, as iets Westers.

’n Openbaring van wie Jesus is en wat dit beteken om Hom te volg, is nodig om hulle na Hom toe aan te trek. Hoe kan ons lewens as gelowiges in en buite Libië bydra daartoe dat hulle ’n ware prentjie van Jesus sien? Hoe kan ons vir uitgewekenes en plaaslike gelowiges bid?

Lees, oordink en bid Rom. 12


 

15-02-19

Benghazi
In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Johannes 1:4

In die ooste van die land lê Benghazi, Libië se tweede grootste stad. Op 15 Februarie 2011 is die woordvoerder vir die slagoffers van die Abu Salim-tronkslagting van 1996 in hegtenis geneem. Die vreedsame klein betoging wat daarop gevolg het, is twee dae later gewelddadig beëindig toe die polisie begin skiet en 14 mense gesterf het. Dit het die revolusie in die land aan die gang gesit wat gelei het tot Gaddafi se val en die wanorde wat steeds daar heers.

Die mense van Benghazi was altyd bekend as versorgers en beskermers van mense in nood wat daar aangekom het. Soos die opvallende landmerk in die stad, ’n ou vierkantige vuurtoring, het Benghazi gedien as ’n verwelkomende baken vir verlore mense. Maar nou is die stad self (geestelik) verlore.

Sedert 2011 is lede van die weermag en die polisie, sowel as maatskaplike aktiviste, koelbloedig vermoor – in moskees, skole, selfs in hul huise. Gevegte duur daagliks voort tussen opposisie-militia en -partye. Baie onskuldige bloed is reeds gestort.

Een vrou het haar frustrasie uitgespreek ná nog so ’n geveg: “Geboue is gebou van klip en sement en ons kan dit weer herbou. Maar die siele van die jongmense van Benghazi word deur terroriste uitgedelg.”

In die afgelope twee jaar was daar ook ’n toename in aanvalle en moorde op buitelandse gelowiges en kerke. Baie Christene is òf weg òf is gedwing om die stad en die land te verlaat.

Wanneer jy dié week stil word om te bid, vra God se genade vir Benghazi. Vra die Heilige Gees om God se lotsbestemming vir die stad en sy mense bekend te maak.
Lees, oordink en bid Jesaja 59


 

15-02-12

4de Herdenking van 17 Februarie-Revolusie

“…maar nou het Hy aangekondig: ‘Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.’ Die woorde ‘nog een maal’ laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.”

Heb. 12:26-27

Khaled is 30 jaar oud en woon in ’n dorp ’n paar uur van Tripoli af. Met die begin van die revolusie het hy geesdriftig aangesluit toe dit sy dorp bereik het. ’n Paar maande later het hy gesê: “Dié afgelope maande was soos hel. Oorlog is werklik lelik—ek het dit nooit voorheen geweet nie. Gaddafi is nie menslik nie, hy is ’n duiwel. Ek was baie keer na aan die dood. Ons het elke dag geveg om aan die lewe te bly totdat die ander rebelle ons kom red het. Daardie dag was ’n heilige dag, die dag van ons oorwinning.”

Twee jaar later, ontmoedig deur die voortdurende geweld en dade van aggressie teen uitgewekenes, het hy gesê: “Van hierdie sogenaamde revolusionêres doen die aakligste goed aan burgerlikes in naam van die revolusie.”

Soos baie ander Libiërs wou Khaled die land verlaat, maar het besluit om ter wille van sy familie te bly. Nou, drie jaar later, het ontnugtering en wanhoop ingesink: “Die hartseer daarvan is dat onskuldige mense in die kruisvuur beland het, so asof die menselewe niks werd is nie. Mense hier ly elke dag regtig onder gewapende roof, kruisvuur, ensomeer. Ek besef nou die probleem was nie met Gaddafi nie. Libiërs is baie leeg—en wanneer hulle die kans kry, kom die donkerte in hulle na vore. Maar miskien is dit die menslike natuur. Soms voel ek wanhopig. Is dit regtig hoe ons lyk? Is dit werklik die menslike natuur? Ek wil baie graag op ’n plek bly waar daar vrede is, met geen oorlog nie, geen haat nie. Ek voel verlore en verward in dié situasie en wonder; is daar ’n lig aan die einde van dié tonnel?”

Lees, oordink en bid Hosea 2: 14-23


 

15-02-05

Lewe vir die jeug

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!”

Jer. 29:11

Die voortdurende geweld sedert die revolusie het ’n uitwerking op die kinders van Libië en hulle lewe omring deur vrees.

Ahmed is 13 jaar oud. Terwyl hulle in die skool hul eindeksamen sit en skryf, ontplof ’n bom net twee blokke daarvandaan. Dit is so ’n alledaagse gebeurtenis dat hy net opkyk en met ’n sug voortgaan. Maar toe ’n militêre vliegtuig twee dae later baie laag oor die skool vlieg, koes hy en sy klasmaats en slaan in angssweet uit. Hulle het gedink hulle word aangeval.

Sy 15-jarige broer, Mahmoud, het een keer in die klas aan die slaap geraak en toe die onderwyser met ’n liniaal op sy lessenaar slaan om hom wakker te maak, het hy in trane uitgebars.

Toe dit nog veiliger was, het Ahmed saam met sy maats sokker in die straat gespeel. Sy ouers laat hom nie meer toe om uit te gaan nie. Hulle is bang hy word ontvoer. Soms sit sy pa saam met ander mans van die buurt buite en kuier en dan kan hy en sy maats onder hul pa’s se wakende oog speel.

Soos alle plaaslike gesinne wat hy ken, besit Ahmed se gesin vuurwapens vir beskerming. Selfs sy broer, Mahmoud, loop met ’n wapen rond.

Ahmed is verveeld by die huis. Hy is gefrustreerd en kwaad, maar daar is niks wat hy kan doen om die situasie te verander nie. Soms wil hy sommer net iemand slaan om ontslae te raak van al die woede in hom. Toe sy vriend onlangs sy gunsteling-potlood gevat het, het hy kwaad geword. Hy het gevoel asof hy hom kon doodmaak, het die onderwyser nie tussenbeide getree nie.

Lees, oordink en bid Jes. 11:1-10


 

15-01-29

Die Amazigh (Berbers)

“Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”
Johannes 8:36

“Salaam” het gedink hy is die enigste lid van die Amazigh-stam wat Jesus geken het. Almal in sy dorpie en streek van Libië was nie-Arabiese Moslems.

Dink net “Salaam” se verbasing toe hy op ’n dag twee gelowiges in Jesus van ’n buurland ontmoet wat sy taal praat! Hulle het gehuil van vreugde terwyl hulle gemaklik met mekaar praat en die gelowiges vertel hoe duisende Amazigh-mense in die buurland Christene geword het.

Die Amazigh, ook bekend as Berbers, is die oorspronklike inwoners van Noord-Afrika. Libiese Berbers woon in dorpe in die Jabal Nafusa-gebergte, aan die kus in Tripolitanië en in woestynoases in Cirenaica en Fezzan. Baie Libiërs wat op Arabiese afkoms aanspraak maak, toon ook spore van gemengde Berber-afkoms.

Sedert die 2011-revolusie vertoon die Amazigh in Libië openlik hul vlag en leer die Tamazight-taal vir hul kinders. Die simbool op hul vlag verklaar hulle as “vry en edel mense”. Hulle is hardwerkende mense vol hoop.

Voor die aankoms van Islam, het die Amazigh hulself beskou as Christene, Jode of politeïste. Vandag is die meerderheid Amazigh Moslems, hoewel sommige toegee die godsdiens is eeue gelede op hulle afgedwing.

Lees, oordink en bid Johannes 4:1-42


 

15-01-22

Derna

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.

Efes. 6:12

Derna is ’n hawestad in die ooste van Libië met ’n bevolking van meer as 100 000. Dit lê tussen die Groen gebergtes, die Middellandse See en die woestyn. Die stad is die tuiste van mense van verskillende herkoms.

Dit is ’n vesting vir radikale groepe, waaronder Ansar al-Sharia, wat deur die VN as ’n terroriste-organisasie geklassifiseer word. In April 2014 het ’n tak van die groep aangekondig dit het die Islamitiese sharia-wet in Derna geïmplementeer. Die selfverklaarde “Shura-raad van Islamitiese Jeug” het na berig word Islamitiese howe oopgemaak en ’n godsdienstige polisiemag in die dorp gevestig. Dosyne gemaskerde lede kom in militêre dienstroepe te voorskyn, paradeer gereeld in vangwaens en swaai vuurpylrigters en swaar masjiengewere rond, met die swart en wit vlag wat die djihadiste gebruik, duidelik sigbaar. In Augustus het die Shura-raad ’n video op die internet geplaas waarin die openbare teregstelling in ’n Derna-sokkerstadion gewys word van ’n Egiptiese man wat van moord beskuldig is.

Derna het ’n lang geskiedenis van Islamitiese radikalisme. Tydens die Gaddafi-era is Derna gemarginaliseer en het meer buitelandse vegters per capita tot Al-Qaeda in Irak bygedra as enige ander dorp in die Midde-Ooste. Dit voorsien ook hope vegters vir ISIS in Sirië. Die meerderheid senior djihadiste in Libië is oud-lede van Al-Qaeda en daar is ’n ideologiese geveg tussen hulle en volgelinge van ISIS.

In November 2014 het sommige Derna-faksies trou gesweer aan ISIS (en die leierskap van Abu Bakr Al Baghdadi), maar dit is onduidelik wie dit was en hoeveel ondersteuning hulle het. In dieselfde maand is die onthoofde lyke van drie aktiviste teen ISIS in die dorp gekry. Die drie, wat inligting oor die stad deur sosiale media oorgedra het, is ’n paar weke tevore ontvoer. Dit lyk asof die stad ’n geestelik donker plek is.

Staan tyd af aan lofprysing en aanbidding om Derna na God se troon te bring; Sy waarheid en lig in Derna te bring. Vra die Heilige Gees om te wys wat in God se hart is vir die inwoners en ekstremistiese groepe. Wat is Sy doel en plan vir hulle? Jy kan woorde of Woord wat jy gekry het, stuur na info@pray4livbya.net of pos dit op ons Facebook- of Twitter-blad.
Lees, oordink en bid 2 Kron. 20:15-22


 

15-01-15

Ewige saadkorrels

Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie, maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.
Jes. 55:10-11

Die grondslag van die Evangelie in Libië kan 2000 jaar teruggevoer word. Ons sien mense van die land wat deel van die Evangelieverhaal is – daar was Simon van Cirene (in die ooste van Libië), sowel as diegene wat op Pinkster teenwoordig was. Vandag is die antieke ruïnes in Libië die stille getuies van die bestaan van die vroeë kerk.

In moderne tye word die saad van die Evangelie op verskillende maniere gesaai. Die waarheid oor Jesus word gedeel; sommige mense het Skrifgedeeltes ontvang; ander word geraak deur die gebede van gelowiges. Daar is ‘saaiers’ wat reeds ’n hoë prys betaal het vir hul saaiwerk.

’n Paar toeriste het een van die dorpe waar die oorblyfsels van ’n vroeë Kerk nog te sien is, besoek. Hulle het ’n jong gelowige ontmoet. Hy was verstom om te hoor Libië word in die Bybel genoem (in Handelinge). Hy het hulle gevra of Simon van Cirene van hul Cirene was. Hy was baie trots en bemoedig dat sy land in die Bybel genoem is.

Hoe kan ons bid vir die saad wat gesaai is? Vra die Gees om ons te wys hoe om te bid vir die saad van die Evangelie wat so lank reeds sluimerend lê?

Lees, oordink en bid Esegiël 47


 

15-01-08

Verklaar God se Grootheid oor Die Land

Lig op julle koppe, poorte,
Ja, lig julleself op ewige ingange,
sodat die roemryke koning kan ingaan
Wie is hierdie roemryke Koning?
Die HERE, die magtige held,
Die HERE, heldhaftig in die stryd.
(Ps. 24:7-8, Direkte Vertaling)

Terwyl sy in die polisiesel gesit het, onbewus daarvan dat sy daardie dag in die hof sou verskyn, het ’n vervolgde gelowige gevoel God gee haar Psalm 24 om oor Libië te bid. Later, terwyl die wagte met haar na die hofgebou gery het, het sy graffiti op ’n muur gesien: “Lig jou kop op, O Libië”. God het Libië nie vergeet nie. Hy het ’n goeie plan met die land.

Verklaar God se naam en sy grootheid oor Libië en sy mense en nooi sy Lig in die land in. Roep die magtige krygers van hierdie land en hierdie volk te voorskyn. Roep die mans en vroue van vrede om die deur van die Evangelie oop te maak en die roemryke Koning in te nooi.

Het jy spesifieke beloftes vir hierdie kosbare land ontvang? Bid dit oor Libië of vra die Heilige Gees vir skrif of beloftes om te bid. Neem tyd hierdie week saam met ander gelowiges om God se grootheid en mag oor Libië verklaar d.m.v. lofprysing en aanbidding.

Lees, oordink en bid Jesaja 35


 

15-01-01

Verbreek die houvas

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

2 Kor. 10:4-5

Ghaddafi het heksery gebruik om sy mag te behou en hom teen sy vyande te beskerm. Al is hy nie meer in beheer nie, heers die donker magte wat vastrapplek gekry het deur geslagte van okkultisme, sondes en vloeke steeds. Die afgelope 4 jaar het baie bloed gevloei. Dit kom voor asof Libië die speelplek van Satan geword het; die duisternis neem steeds meer en meer oor.

Libië is onder meer in die geestelike vestings van heksery, trots, eiegeregtigheid, die anti-Chris (wat die dood en opstanding van Jesus en Jesus as Seun van God ontken), gees van dood en humanisme vasgevang.

Deur Jesus kan ons die troonkamer sonder vrees nader, die Heilige Gees toelaat om in ons harte te kyk en kan ons in nederigheid en vertroue in Jesus daardie vestings oor Libië verbreek in gebed; so maak ons die werk van die bose ongedaan en berei die pad voor vir die Koninkryk.

Vra die Gees of daar enige ander magte of ingesteldhede is wat afgebreek moet word. Weerstaan dit en vra steeds die Gees vir meer duidelikheid.
Nooi ander gelowiges om een of meer dae hierdie week vir die land te vas. Sluit jou gebedstyd af met prys en danksegging aan ons Koning van die konings.

Lees, oordink en bid Psalm 97